Carina Francke 

En God sê vir Moses: Ek is wat Ek is. Ook sê Hy: So moet jy die kinders van Israel antwoord: Ek is het my na julle gestuur. Exodus 3:14,1933/1953-vertaling
 
Die Israeliete het Hom geken as Yahweh, wat dikwels vertaal word met Jehova of Heer. In Exodus 3:14 stel God Homself egter aan Moses bekend as Ek is (Wat Ek Is). Die Naam wat sy ewige krag en onveranderlikheid met vier letters van die Afrikaanse alfabet onthul en ingraveer in die gees van gelowiges. Hy is die Selfbestaande, die Ewige, die Een wat altyd was en altyd sal wees (Psalm 90:2), die Immer Teenwoordige. Hy bevestig die waarheid van hierdie unieke naam as Hy Moses opdrag gee om die volk te herinner aan sy verbondsbelofte dat Hy “die God van julle voorvaders is.” (Abraham, Isak en Jakob). “Dit is ewig my Naam; dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag. (Eksodus 3:15b,1983-vertaling)
 
Verstaan jy wat dit beteken? God is onveranderlik in sy totale wese. Wat Hy die aardsvaders beloof het, sal Hy tot die letter toe vervul. Hy is die Bron van alles; alles is uit Hom; Hy is altyd in die Nou, en vir Ewig, want Hy is. Besef jy wat dit vir ons beteken? In Hom is elke belofte in die Woord, Ja en die Amen!
 
Hierdie Naam is die somtotaal van wie God is – ten opsigte van aard, karakter, natuur, ensovoorts. Hy is! Wat 'n goddelike gerusstellende wete in ons deurmekaar en veranderende wêreld: ons kan vastigheid en veiligheid in ons Immer-Dieselfde-God vind. Die gelowige kan sy of haar toekoms aan God toevertrou, want Hy ken reeds die fynste besonderhede van môre. Met dit in gedagte, wonder ek of ons Hom nie meermale as Vader moet volg en geniet nie, eerder as om Hom te probeer ontleed?
 
Die wese van God, Ek is, is ook in Jesus Christus teenwoordig. Tydens 'n gesprek met ongelowige Jode, waarsku Hy hulle dat hulle in hul sondes sal sterf, tensy hulle glo dat Hy is wie Hy sê Hy is: “Ek is wat Ek is.” (Johannes 8:24) Met verwysing na sy kruisiging, begelei Jesus hulle om te verstaan wat Hy bedoel: “Eers wanneer julle die Seun van die mens verhoog het, sal julle begryp dat Ek is wat Ek is…” (Johannes 8:28). As finale bevestiging om hierdie waarheid oor wie Hy is, vas te knoop, verwys Hy, soos God, na sy verhouding met Abraham: “Voordat Abraham gebore is, was Ek al wat Ek is.”(Johannes 8:58) Dit is die Naam waarmee Hy aangeroep moet word van “geslag tot geslag.” En dan die gee hy die rede: “Ek is die Seun van God.” (Johannes 10:36)
 
Gebed: Hemelse Vader, wat 'n geloofsanker om te weet dat ons Hemelse Vader en Jesus Christus ons Verlosser, Is wie Hulle Is. En dat ons deur geloof deel van hierdie Goddelike, ewige Ek is familie mag wees met die wete dat Vader en Seun “is gister en vandag dieselfde en tot in ewigheid.” (Hebreërs 13:8) Amen.