Ben Fourie
 
“Toe hulle klaar was met ontbyt, vra Jesus vir Simon Petrus: ‘Simon, seun van Johannes, het jy My baie lief, meer as hulle?’” Johannes 21:15a, 2020-vertaling
 
Die visserman met die naam wat rots beteken en “hoof dissipel”. Dit is die man wat tydens 'n storm op see iets aangepak het wat geen mens nog ooit kon regkry nie. Hy klim uit die boot en begin om op water te loop, strydig met alle beginsels van die natuurwetenskap. Wanneer ander nog allerlei antwoorde uitdink, is dit hy wat volgens Matteus 16:16 kan bely: “U is die Christus, die seun van die lewende God.”
 
Petrus is ook 'n seloot, lid van 'n nasionalistiese groep wat hulle land uit die hand van die Romeine wou bevry. Daarom is hy in Getsemane die enigste een wat 'n swaard dra. Kragdadig en sterk is hy wel, maar ook vreesbevange in die binnehof wanneer hy ontken dat hy 'n volgeling van Jesus is.
 
Ons het met vader Claerhout se reeks skilderye begin en nou wil ek ook daarmee afsluit. Die laaste skildery in die reeks het my soos 'n hou tussen die oë getref. Op die skildery staan net een sentrale figuur reguit na jou en kyk. Op my vraag oor die betekenis van die skildery, het vader Claerhout met sy sterk Vlaamse aksent gesê: “Kyk sijn grote oge. Hy kyk nou vir jou, dit is nou nie meer Hy en die ander nie, maar Hy en jy!”
 
Dit is wat Petrus daardie oggend moes beleef het toe Jesus vir hom vra: “…het jy My baie lief, meer as hulle?” Daar was geen wegkruipplek meer nie, geen verskoning moontlik nie, die “hulle” het nie saak gemaak nie, net Petrus en Jesus. Nou was alles wat hy die afgelope drie jaar saam met Jesus beleef het op die agtergrond, selfs die verloëning het geen rol gespeel nie, alles het nou in die helder lig gestaan van die vraag “het JY my baie lief.” So ook met jou en my. Op die ou end is dit nie oor wat ander mense van Jesus sê, of selfs wat my kerk oor Jesus verkondig, of hoe my familie, my man, my vrou, my kinders oor Jesus dink nie, maar alleen – het EK Hom baie lief?
 
Gebed: Here Jesus, U het my so liefgehad dat U aan die kruis vir my gesterf het. Help my om U ook bo alles en almal lief te hê. Amen