Ben Fourie 

“Terwyl hy onderweg was, en naby Damaskus kom, het 'n lig uit die hemel hom omstraal, en hy het op die grond neergeval en 'n stem vir hom hoor sê: ‘Saul, Saul, waarom vervolg jy My?’ Hy het gevra: ‘Wie is U, Here?’ En Hy antwoord ‘Ek is Jesus, wat jy vervolg…’” Handelinge 9:3-5, 2020-vertaling
 
Saul van Tarsis, afkomstig uit die stam van Benjamin. Dit is dieselfde naam as die eerste koning van Israel wat ook uit die stam van Benjamin was. Die Griekse vorm daarvan is Saulus. Dit was daardie tyd gebruiklik dat baie van die Jode naas hulle Hebreeuse naam ook 'n Latynse naam gehad het, en dit is waar die naam Paulus vandaan kom.
 
Gebore in Tarsis maar baie moontlik grootgeword in Jerusalem en leerling van die bekende rabbi Gamaliël. Paulus was 'n Fariseër en sy familie het blykbaar uit 'n goeie agtergrond gekom. Sy susterskind kon byvoorbeeld volgens Handelinge 23:16 toegang kry tot die soldatekwartiere waar Paulus aangehou is, iets wat nie sommer toegelaat is nie.
 
Die Bybel spel nie vir ons uit waarom Paulus die vroeë gelowiges so fanaties vervolg het en selfs by die steniging van Stefanus die getuies se klere opgepas het en ook die steniging goedgekeur het nie. Dit was waarskynlik omdat Paulus as Fariseër erg gekant was teen hierdie nuwe leerstellings wat die Joodse godsdienstige wette volgens sy siening ondermyn het.
 
Op die pad na Damaskus skyn die helder lig van Jesus skielik rondom hom en wanneer Jesus vir hom vra: “Saul, Saul waarom vervolg jy My?" kan hy maar net verdwaas vra: “Wie is U Here?” Die woord wat hier met “Here” vertaal word het ook die betekenis van “meneer”, want op hierdie oomblik het Paulus nog nie geweet dat dit Jesus is wat met hom praat nie. Eers dan hoor hy dat dit Jesus is en eers heelwat later wanneer Ananias alles vir hom verduidelik, besef hy werklik dat dit 'n ontmoeting met Jesus was. Van hier af aan is daar vir hom net een pad, Jesus se pad. Hy word die groot uitdraer van die Blye Boodskap dwarsdeur die bekende wêreld van sy tyd.
 
Hoe wens ons nie dalk ook dat Jesus uit 'n hemelse lig met ons wil praat nie. Tog doen Hy dit mos wel. Hy praat elke dag met ons deur die Heilige Gees en die Bybel om ons ook sy sendelinge in die wêreld te maak.
 
Gebed: Baie dankie Here dat U ook vir my die lig van u Woord gegee het om soos die psalmdigter sê: “'n Lig vir my voet en 'n lamp vir my lewenspad te wees.” Amen