Ben Fourie 

“En kyk daar was 'n sondige vrou in die dorp wat gehoor het dat Hy by die Fariseër se huis gaan eet het. Sy het 'n albasterfles met reukolie gevat en agter Jesus, by sy voete, gaan staan.” Lukas 7:37-38a, 2020-vertaling
 
Daar is soveel figure in die Bybel wat vir 'n oomblik op die toneel verskyn en 'n mens se aandag vasgryp en dan verskyn hulle nie weer nie. Tog was dit wat hulle gedoen het of wat met hulle gebeur het belangrik genoeg om in die Bybel opgeteken te word. So 'n persoon was die vrou wat ons hier ontmoet. Al vier die evangelieskrywers teken die gebeure aan, so ons kan aanneem dat dit belangrik was. By drie van hulle gebeur dit aan huis van Simon die Melaatse. Lukas noem ook dat hy 'n Fariseër was. Johannes sê egter dat dit in Lasarus se huis plaasgevind het en dat dit Maria (Lasarus se suster) was wat Hom gesalf het.
 
Matteus, Markus en Johannes vertel dat dit die week voor die Pasga en dus kort voor die kruisiging plaasgevind het. Lukas plaas die gebeure egter baie vroeër in Jesus se bediening en is die enigste een wat na haar as 'n sondige vrou verwys. Dit lyk amper asof daar by meer as een geleentheid en op verskillende plekke 'n vrou was wat vir Jesus met reukolie gesalf het.
 
Vir my is Lukas se weergawe baie besonders. Die vrou moes 'n geweldige behoefte gehad het om vir Jesus te ontmoet en iets vir Hom te doen. Vir haar wat as 'n “sondige vrou" gebrandmerk was, moes dit baie moed geverg het om in die huis van 'n Fariseër in te gaan. Jesus is blykbaar baie gemaklik met die hele situasie van 'n “sondige” vrou wat sy voete nat huil, met haar hare afdroog, soen en met reukolie invryf, maar vir sy gasheer Simon is die gebeure bra vreemd. Jesus merk dit en deur die gelykenis van die twee skuldenaars leer Simon die baie belangrike les dat die een wat die grootste kwytskelding gekry het ook die meeste dankbaarheid sal hê. Daarom ontvang sy dit wat sy kom soek het en elkeen wat vir Jesus opsoek, ontvang dit ook: ”Jou sondes is vergewe.”
 
Gebed: Baie dankie dat U nie na ons verlede kyk nie, maar elkeen wat opreg na U toe kom, volkome vergewe. Amen