Ben Fourie 

“Toe Jesus in die omgewing van Jerigo kom, sit daar langs die pad 'n blinde man en bedel. Toe hy die skare hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. Hulle het vir hom gesê dat Jesus, die Nasarener, daar verbyloop. Toe roep hy hardop uit: ‘Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!’” Lukas 18:35-38, 2020-vertaling
 
In ons era is daar tegnologie wat mense met 'n siggebrek in staat stel om byvoorbeeld na musiek te luister, boeke in braille te lees en te luister na boeke wat in klank beskikbaar is. Die heel nuutste rekenaartegnologie skep ook vir blindes ongelooflike toegang tot kommunikasie. Die Bybelgenootskap het selfs 'n Oudiobybel, die Audibible, waar mense na die volledige teks van die Bybel kan luister. Blindes en swaksiendes beoefen deesdae 'n beroep, bedryf hulle eie besighede, is boere en kunstenaars. Een van my gunsteling sangers is Andrea Bocelli. Hulle is dus volledig deel van die samelewing.
 
In Jesus se tyd was dit heeltemal anders. Daar was geen tegnologie nie en min of meer die enigste “beroep” wat 'n blinde kon beoefen was om te bedel. Daarom kan 'n mens verstaan hoe opgewonde die man daar langs die pad was toe hy die geraas van die skare hoor en op sy navraag die antwoord kry dat dit Jesus is wat daar verbygaan. Hy moes al van Jesus gehoor het en seker ook van die talle genesingswonders.
 
Hy begin dus hard te skreeu om Jesus se aandag te trek, maar die mense berispe hom en maak hom stil. Hy steur hom nie aan hulle nie, want hy besef dat dit dalk sy enigste en laaste kans is, so hy skreeu net nog harder. Die mense het nie tyd gehad vir 'n blinde bedelaar nie, maar gelukkig het Jesus altyd en vir almal tyd. Op Jesus se vraag oor wat Hy vir hom kan doen, smeek hy: “Here dat ek kan sien” en Jesus genees hom net daar. Jesus het goed geweet wat sy behoefte is, maar wou dat hy dit self uitspel.
 
Jesus wil elke mens ontmoet, Hy het tyd vir ons en ons probleme. Hy wil bo alles dat ons wat verblind is deur die sonde, die lig van verlossing sal sien. Soos die blinde by Jerigo moet ek net my kans aangryp, dit mag dalk die enigste kans wees wat ek kry. 

Gebed: Dankie dat ek met my geestesoog u kruisdood kan sien en dat U daardeur vir my die pad na die ewige lewe sigbaar gemaak het. Amen