Ben Fourie 

“Net toe Hy uit die boot klim, het 'n man met 'n onrein gees Hom skielik uit die rotsgrafte tegemoet gegaan. Hierdie man se blyplek was tussen die rotsgrafte. Niemand kon hom meer vasbind nie, selfs nie met 'n ketting nie.” Markus 5:2-3, 2020-vertaling
 
Hierdie verhaal word met 'n paar verskille in drie van die Evangelies vertel. Hoe en wat besetenheid in die tyd van die Bybel beteken het, is vir ons wat tweeduisend jaar later lewe moeilik om te weet en te verstaan. Wat vir ons egter in die verhaal belangrik is, is die persoon se toestand en veral hoe Jesus daarop reageer. Dat hy geheel en al vervreemd was van homself en die samelewing is duidelik. Die vervreemding van homself het al sulke erge afmetings aangeneem dat hy homself bedags en snags al skreeuend met klippe geslaan het.
 
Sonder klere en sonder woonplek was hy natuurlik ook nie welkom tussen mense nie en is die enigste plek vir hom tussen die grafte. Hierdeur was hy in die oë van die dorpsmense ook onrein. Hulle het hom probeer bedwing, maar selfs die kettings waarmee hulle hom gebind het, kon hom nie vashou nie. Wat 'n tragiese geval sou mens kon sê.
 
Ek wonder of enigeen van ons vir hom sou kans sien. Jesus sien wel vir hom kans en toe die genesing verby is, kom die dorpsmense daar aan en is verwonderd, want hulle tref 'n heel normale persoon aan in die plek van die besetene wat hulle geken het. Hy is aangetrek en by sy volle verstand, maar wat doen die dorpsmense? 'n Mens sou dink hulle sou vir Jesus en die geneesde man na hulle dorp toe nooi, maar hulle vra Jesus om liewer uit hulle area te vertrek.
 
Wanneer Jesus mense ontmoet, het dit 'n drastiese uitwerking op hulle lewens. 'n Besetene word so verander dat hy 'n “sendeling” word en oral gaan vertel van wat Jesus vir hom gedoen het. “Goeie” mense word deur dieselfde ontmoeting so ontstel deur die vreemdheid van wat gebeur het en sekerlik ook deur die verlies van hulle trop varke, dat hulle verlig sou wees as hy liewer wou padgee.
 
Gebed: Help my om elke dag wanneer U ook in my lewe wonderwerke wil doen daarvoor gereed te wees. Amen