Ben Fourie 

“En gou het daar 'n vrou wie se dogtertjie 'n onrein gees gehad het, van hom gehoor, en voor sy voete kom neerval. Dit was 'n Griekse vrou, van Siro-Fenisiese afkoms. Sy het hom gevra om die demoon uit haar dogter uit te dryf.” Markus 7:25-26, 2020-vertaling
 
'n Ma in nood. 'n Siek dogtertjie. 'n Moeë man wat 'n bietjie wou rus en daarom nie wou hê mense moes weet dat hy op 'n spesifieke plek tuis gaan nie. Vanweë sy bekendheid het hy egter nie onopgemerk gebly nie. Klink dit nie soos die raamwerk vir 'n baie goeie kortverhaal nie? Hoe verder 'n mens lees, hoe meer kom jy onder die indruk van wat 'n pragtige verhaal dit inderdaad is, maar hierdie is geen fiksie nie.
 
Die siek kind het volgens die gegewens 'n onrein gees gehad. Ons fokus is nie op wat dit beteken om 'n onrein gees te hê nie, maar op die siek kind en haar moeder se kommer oor haar. Ons teks sê die moeder het gou van Jesus gehoor, maar sy het natuurlik 'n groot probleem gehad. Sy was nie 'n Jood nie. Ons lees dat sy 'n Griek was, van Siro-Fenisiese afkoms. Matteus noem haar 'n Kanaänitiese vrou. Presies wie en wat sy was, weet ons nie, maar die feit is dat sy nie 'n Jood was nie en dat Jesus wel 'n Jood was.
 
Dit was ietwat ongehoord dat sy, as vrou en boonop nog 'n nie-Jood, ongevraagd in die teenwoordigheid van 'n Joodse man sou kom, maar haar nood is groter as die konvensies van die dag, haar kind is siek en sy is 'n bekommerde ma.
 
Jesus verduidelik vir haar dat hy in die eerste plek vir die mense van Israel gekom het deur die treffende beeld van die kinders se kos wat nie vir die hondjies gegooi moet word nie. Sy begryp dadelik wat hy bedoel, maar is gereed deur te antwoord dat die hondjies darem onder die tafel die kinders se krummels kan eet.
 
Hierdie tweegesprek tussen Jesus en die “heidense” vrou vertel vir ons nog iets oor wat gebeur wanneer Jesus mense ontmoet. Op grond van haar besondere geloof dat selfs die krummels heeltemal genoeg is, stuur Hy haar huis toe met die woorde: “Die demoon het reeds uit jou dogter uitgegaan.”
 
Gebed: Baie dankie Here dat geen mens meer onder die tafel krummels hoef te eet nie, maar dat ons as u gaste kan aansit by die bruiloftafel van die Lam. Amen