Ben Fourie 

Jesus het Jerigo binnegegaan en deur die stad gestap. En kyk, daar was 'n man met die naam Saggeus. Hy was 'n hooftollenaar en 'n ryk man.” Lukas 19:1-2
 
“Kyk man, ek het God nie nodig nie, ek is gesond en het alles wat ek maar kan begeer.” Dit was die woorde van 'n man in België aan 'n vriend van my wat daar sendingwerk gedoen het. So kon Saggeus seker ook gedink en gevoel het toe hy hoor dat Jesus in Jerigo was.
 
Saggeus was nie verniet 'n hooftollenaar nie. Die voetnoot in Die Bybel 2020 vertalings sê die woord “hooftollenaar” kom net hierdie een keer in die Nuwe Testament voor en het waarskynlik daarop gedui dat Saggeus ander tollenaars in diens gehad het. Tollenaars het destyds belasting vir die owerhede ingesamel en 'n klomp daarvan in hulle eie sak gesteek. Hooftollenaar status sou hom 'n skatryk man gemaak het, 'n man wat dalk ook kon gevoel het dat hy niks en niemand nodig het nie.
 
Waar en hoe Saggeus van Jesus gehoor het, weet ons nie, dalk het die mense in Jerigo waar hy gewoon het gepraat oor die nuwe profeet, dalk het hy maar eers op daardie oomblik by mense in die skare gehoor. Die feit is dat hy nuuskierig was om Hom te sien. Kort van gestalte was dit blykbaar maar vir hom moeilik om oor die koppe van al die mense 'n blik op Jesus te kry, maar hy maak gou 'n plan en klim in 'n wildevyeboom. Saggeus het waarskynlik nie veel meer verwag as om maar 'n kykie te kry op hoe hierdie gevierde persoon lyk nie, maar hy kry die grootste verrassing en geskenk van sy lewe.
 
“Klim af” sê Jesus vir hom, “want Ek moet vandag in jou huis oorbly.” En nog later: “Vandag het daar verlossing vir hierdie huis gekom.” 'n Ontmoeting met Jesus is 'n maak of breek situasie, daar is nie 'n middeweg nie. Saggeus is een van die begenadigdes. Die Jode wat Jesus kritiseer en sê: “Hy gaan by 'n sondige man tuis” was honderd persent korrek. Saggeus was 'n sondige man, maar anders as die voorbeeld van die Belgiese man hierbo, het hy dit besef en reggemaak wat hy verbrou het.
 
Gebed: Soos die skrywer van die lied wil ek ook vra: “Leer my Heer u regte weë, wys die regte pad my aan”, ja, wys my ook waar ek teenoor ander verkeerd gedoen het en help my om dit reg te stel. Dankie dat U ook vir my en my huis verlossing gebring het. Amen