Ben Fourie 

“Nadat hulle na die oorkant gevaar het, het hulle aan wal gegaan by Gennesaret. Toe die manne van daardie plek Hom herken, het hulle daardie hele omgewing laat weet, en hulle het almal wat siek was, na Hom gebring en Hom gesmeek dat die siekes selfs net die soom van sy bokleed kon aanraak. En almal wat dit aangeraak het, is genees.”   Matteus 14 verse 34 tot 36, 2020-vertaling
 
Die Evangelies is vol van die talle kere wat Jesus genesing wonders gedoen het en deur so 'n ontmoeting mense se lewens radikaal verander het. Met sommer net so 'n vinnig deurblaai van die Evangelie volgens Lukas tel ek elf opskrifte waar dit oor genesings gaan. Dit beteken natuurlik nie dat daar maar net elf mense gesond gemaak is nie, want by verskeie geleenthede lees ons van baie mense wat op een plek gesond gemaak is. Die verhaal van ons teksgedeelte van die dag is so 'n geval en is vir my een van die mooistes.
 
Wanneer Jesus in die dorpie Gennesaret aankom veroorsaak dit 'n opskudding. Hy moes bekend gewees het as 'n groot geneesheer, want die oomblik toe die mense van die dorpie hom herken, het die boodskap vinnig deur die hele omgewing versprei en die siekes is van heinde en verre aangebring. Siekte is in daardie tyd natuurlik heeltemal anders ervaar as in ons moderne tyd. As jy byvoorbeeld pyn gehad het moes jy dit maar verduur, want selfs 'n gewone pynstiller soos parasetamol wat jy vandag oral kan koop, het nie bestaan nie. Alhoewel daar moontlik amputasies gedoen is, was operasies soos ons dit ken en verstaan natuurlik nie moontlik nie. As jy blindederm ontsteking gekry het, het jy waarskynlik daarvan gesterf. Brille was onbekend en gehoorapparate iets vir tweeduisend jaar in die toekoms.
 
Daar was dokters, Lukas was self een, maar op 'n heeltemal ander vlak as die van vandag. Dan kom Jesus op die toneel en skielik is daar hoop vir mense in hopelose situasies, want om selfs net aan sy bokleed te raak, het pyn laat verdwyn, gehoor herstel en melaatsheid wat van jou 'n uitgeworpene gemaak het, weggeneem.
 
Vandag hoef ons nie meer Sy kleed aan te raak nie. Hy kom raak ons aan wanneer ons siek, hartseer, moeg of depressief is en bo alles genees Hy ons ook van ons grootste kwelling, die sonde. Na 'n genesing wonder in Lukas 9:43 lees ons: “Almal was verstom oor die grootheid van God.” Daarop kan ons Amen sê.
 
Gebed: Dankie dat U altyd daar is, selfs in my diepste nood. Amen