Ben Fourie 

“In die sesde maand is die engel Gabriël deur God gestuur na Nasaret, 'n dorp in Galilea, na 'n maagd wat verloof was aan 'n man met die naam Josef, uit die nageslag van Dawid. Die maagd se naam was Maria.” Lukas 1:26-27, 2020-vertaling
 
As daar seker een mens is wie se lewe in al sy fasette deur Jesus aangeraak is, sal dit Maria wees en tog weet ons so bitter min van haar af. Haar naam is die vergriekste weergawe van die Hebreeuse naam Miriam en duisende skilderye en beelde is van haar gemaak, maar niemand weet werklik hoe sy gelyk het nie. Die Skrif self gee vir ons geen beskrywings nie as net dat sy 'n maagd was wat in Nasaret gewoon het en aan die timmerman Josef verloof was.
 
Josef se hele voorgeslag word in Matteus Hoofstuk 1 tot by Abraham teruggevoer, maar van Maria se voorsate weet ons eintlik niks. Skrifuitleggers neem aan dat sy ook uit die geslag van Dawid afkomstig is omdat Jesus aangedui word as komende uit die geslag van Dawid en ons weet Josef was nie Jesus se biologiese vader nie, maar ons weet nie regtig nie.
 
Naas die aankondiging deur die engel, die besoek aan Elisabet, die geboorteverhaal, die vlug na Egipte en die keer toe Maria en Josef met die twaalfjarige Jesus na Jerusalem gegaan het, hoor ons maar min van haar. Ons weet sy was op die bruilof by Kana en lees in Lukas 8:19 dat sy moeder en broers na Hom toe gekom het, maar omdat daar so baie mense was nie by Hom kon uitkom nie. Sy was ook by die kruis die dag toe Jesus gesterf het. Verder lees ons in Handelinge 1:14 dat sy na die hemelvaart een van die was wat in die bovertrek gaan bid het, so ons kan aanneem dat sy ook by die hemelvaart teenwoordig was, maar dit is al.
 
Hoe sou Maria gevoel het toe sy hoor sy gaan die moeder van die Messias word en hoe sou sy daardie dag by die kruis ervaar het? Ons weet nie, maar tog besef ons haar lewe was vanaf die oomblik dat die engel die boodskap gebring het nooit weer dieselfde nie. In Lukas 1:48-49 sê Maria: “Kyk, van nou af sal alle geslagte my gelukkig noem, want die Magtige het groot dinge vir my gedoen, ja heilig is sy Naam.” Nog vóór die geboorte van Jesus het sy al besef dat hierdie kind van God nie net haarself nie maar ook die hele wêreld sou kom verander.
 
Gebed: Hemelse Vader U het eenmaal lank gelede 'n jong vrou gebruik om u eie Seun Jesus Christus in die wêreld te bring. Gebruik ook vir my om Jesus se boodskap van liefde en verlossing in die wêreld uit te leef. Amen