Ben Fourie 

“En die Woord het vlees geword en onder ons kom woon, en ons het sy heerlikheid aanskou …” Johannes 1:14 (2020-vertaling)
 
Jare gelede het ek en my vrou die voorreg gehad om 'n hele oggend lank by die skilder vader Frans Claerhout in Tweespruit te kuier. Vandat ons vir die heel eerste keer 'n skildery van hom gesien het, was ons tot sy werk aangetrokke. Kort voor die besoek het ons by die Bybelhuis in Bloemfontein na die pragtige reeks skilderye wat hy oor die Woord van God gemaak het gaan kyk. Doen gerus die moeite as julle in Bloemfontein is om in te loer.
 
Nadat ons lekker tee gedrink en na die werke in sy ateljee gekyk het, het hy ons na 'n aparte saaltjie geneem waar 'n reeks skilderye gehang het met min of meer die titel: Jesus en die ander een. Ek het nog nêrens anders in woord of beeld so onder die indruk gekom van wat Jesus eintlik op aarde kom doen het as daar nie. Dit was 'n preek in lyn en kleur wat ek nooit sal vergeet nie.
 
Dit het begin met Maria, die moeder van Jesus, en voortgegaan na verskeie mense wat in die drie jaar van Jesus se bediening sy pad gekruis het. Ek kan ongelukkig nie meer onthou wie dit almal was nie, maar ek het vir ons vir die komende maand 'n aantal mense uitgesoek, individue en groepe, wie se lewens deur die ontmoeting met Jesus na een of ander kant onherroeplik verander is.
 
Hy het nie verniet, soos ons teksvers sê, “onder ons kom woon” nie. Hy was hier tussen die mense van sy tyd en het deur self mens te word die ruimte geskep om die mens in al sy gedaantes te ontmoet: goeies, slegtes, banges, voortvarendes, duiwelbesetenes, siekes, uitgeworpenes, jonges, kinders, oues, priesterhoofde en vissermanne, ja noem maar op, hulle is almal daar. En tussen hulle is ook ek en jy, want Jesus het ook gekom om vir jou en my op 'n besondere manier te ontmoet.
 
Gebed: Baie dankie dat U die hemelse woning vir drie en dertig jaar lank prysgegee het om ook 'n ontmoeting met my moontlik te maak. Amen