Xanthe Hancox 

God het vir hom gesê: “Vat jou seun, jou enigste seun, Isak wat jy liefhet, en gaan na die landstreek Moria toe en offer jou seun as brandoffer daar op een van die berge wat Ek vir jou sal aanwys.” Genesis 22:2, 1983-vertaling
 
God se opdrag kon geen sin vir Abraham gemaak het nie. In Genesis 17 het God hom beloof dat deur Isak, sy enigste erfgenaam, Abraham en sy nageslag geseën sou word, en dat Sara die moeder van die nasies sou word. Hoe kon dit steeds moontlik wees as hy sy enigste seun moes offer?
 
Ondanks dit alles het Abraham God tog vertrou en in gehoorsaamheid gereageer. Isak het sy vader liefgehad en hom genoeg vertrou om sy opdragte uit te voer. Abraham was vir Isak 'n duidelike voorbeeld van gehoorsaamheid aan God. Sy pa het gesê dat God sal voorsien, en dit was vir Isak genoeg.
 
Hulle het nie God se plan geken nie, maar hulle het God vertrou om in beheer te wees. "Deur geloof het Abraham … – omdat hy gereken het dat God die mag het om ook uit die dood op te wek, waaruit hy, figuurlik gesproke, hom [Isak] ook terugontvang het. (Hebreërs 11:17a,19, 2020-vertaling)
 
Dit is moeilik om God te vertrou wanneer ons nie sy plan verstaan nie, wanneer ons nie kan sin maak uit dit wat God ons roep om te doen nie. Ons wil eerder bly glo dat ons in beheer van ons eie lewe is, maar dit is nie hoe God werk nie. God vra dat ons Hom volkome moet vertrou en gehoorsaam.
 
Kan ons gehoorsaam bly selfs wanneer die lewe glad nie sin maak nie? Ander kyk na ons om te sien of ons waarlik dit wat ons bely ons glo, uitleef. Is ons lewens voorbeelde van gehoorsaamheid wat ander mense kan navolg?
 
Gebed: Here, help my om U elke dag beter te leer ken en te vertrou dat U vir my omgee. Gee dat my lewe van gehoorsaamheid aan U sal getuig en dat dit ander nader aan U sal bring. Amen