Ewald Schmidt 

“Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale. Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God.” 2 Samuel 6:5-7, 1983-vertaling
 
Hierdie is een van die moeilike teksgedeeltes in die Bybel. Ussa het probeer goed doen, en die Here het hom daar laat sterf. Hoekom? Dawid het in 2 Samuel 5 Jerusalem uiteindelik oorwin, dit was die stad van die Jebusiete. Dawid maak dit die hoofstad, en wil graag die Here daar eer op Sionsberg. Die verbondsark simboliseer van Moses se tyd af God se teenwoordigheid onder sy volk. Dawid wou in die nuwe hoofstad God eer met 'n nuwe tempel. Daarom laat kom hy die ark solank.
 
Met groot feestelikheid het hulle die verbondsark gaan haal. Die dag eindig in die tragiese dood van Ussa. Die probleem was dat Dawid kortpad gevat het. Hy het die verbondsark sommer agter op 'n wa gelaai. Die verbondsark simboliseer God se teenwoordigheid, en daar was duidelike voorskrifte dat die Leviete die verbondsark moet dra.
 
Die boodskap was duidelik: God is heilig, wees gehoorsaam aan Hom. Volg sy voorskrifte. Die eerste keer se feesvieringe was dalk meer polities van aard – kyk hoe wonderlik is ons om die Here se ark te gaan haal! Die tweede keer doen hulle dit op die regte manier. Toe was die fokus om die Here te dien. Met opregte harte was daar weer feesvieringe, Dawid dans voor die Here, ramshorings blaas en tamboeryne speel. Met gejuig het die verbondsark by die bestemde plek gekom, waar Dawid 'n spesiale tent voor opgeslaan het. Daar kon Dawid die hele volk seën.
 
Onthou dat die Here heilig is. Hy speel nie die spel van die lewe volgens ons reëls nie. Onthou dat Hy God is, en ons mens is. Ons eie planne lei tot die dood. Wanneer ons Hom in nederigheid en afhanklikheid dien, dan is daar lewe en vreugde.
 
God is ons Vader. Hy is nou toeganklik vir almal, deur die offer van Jesus (Hebreërs 7:25). Onthou dat Hy heilig is. Dien Hom met oorgawe. Dan sal jy ook lewe en vreugde beleef.
 
Gebed: Here, U is heilig. Tog is U ook ons Vader, wat vir ons onbeskryflik lief is. Dankie dat ons U mag ken, en dien. Help ons om altyd te onthou wie U is. Dankie dat U vir ons die lewe wil gee. Amen.