Ewald Schmidt 

“Hierna het al die Israelitiese stamme na Dawid toe in Hebron gegaan en gesê: “Ons is tog almal u eie mense! In die tyd toe Saul koning was, was u tog maar die een wat Israel in die oorlog aangevoer het. Die Here het vir u gesê:“Jy moet vir my volk Israel 'n herder wees;
ja, jy moet heerser oor Israel wees!” So het al die leiers van Israel by die koning in Hebron gekom. Toe het koning Dawid in Hebron in teenwoordigheid van die Here 'n verdrag met hulle gesluit. Op hulle beurt het hulle vir Dawid daar tot koning oor Israel gesalf.”  2 Samuel 5:1-3, 1983-vertaling
 
Die Here lê dalk 'n droom of visie op jou hart. Dit begin gewoonlik klein, met net 'n saadjie van hoop. Met die jare word die droom of visie al hoe sterker. Selfs as dit van die Here af kom, is dit nie vanselfsprekend dat alles sommer maklik sal loop nie. Daar is dikwels sterk teenkanting. Daar is 'n vormingsproses in die meeste dinge wat die moeite werd is in die lewe. Daar is groei nodig om waardig te wees vir die aanvang van die roeping. As dit van die Here af kom, en as jy volhard en groei, dan gebeur dit: op 'n dag sien jy jou droom in vervulling gaan.
 
Dawid was as klein seuntjie gesalf tot koning van die hele Israel. Hy moes eers jare lank in Saul se diens wees. Hy het vir sewe en 'n halwe jaar net oor die stam Juda geheers. Saul se seun Is-Boset was as koning gekroon deur Abner, Saul se leëraanvoerder. Maar Is-Boset is vermoor. Daarna het al die leiers van Israel byeengekom in Hebron, en Dawid erken as die koning wat die Here gekies het. Daar het Dawid 'n verdrag met die volk gesluit om 'n goeie koning, in diens van God en sy volk te wees. Daar is hy tot koning oor al die stamme van Israel gesalf. Dit het jare geneem van die belofte tot by die vervulling.
 
Wees geduldig wanneer dit lyk asof die Here van jou vergeet het. Wees getrou in dit wat jy vandag moet doen. Maak tyd om saam met die Here te spandeer, en sy leiding te kry deur sy Woord en Gees vir die volgende hoofstuk in jou lewe. Volhard, hou uit, hou aan! Die Here help sy gelowige kind graag om die doel van ons lewe te bereik. Teenstand maak ons sterker. Die oorwinning is soveel soeter as ons lank daaraan moes werk. Wanneer ons die kruin van sukses bereik, wees nog meer bedag daarop om die Here te gehoorsaam, en om nederig te bly.
 
Gebed: Here, help my om U te vertrou, wanneer die droom wat U my gegee het, lyk of dit nie gaan uitwerk nie. Help my om meer tyd saam met U te spandeer. Maak my meer afhanklik van U. Lei my, en rus my toe met alles wat ek nodig het, om voluit vir U te lewe. Mag my lewe U verheerlik! Help my om die reis saam met U te geniet. Amen.