Ewald Schmidt

 
“Daar was 'n langdurige oorlog tussen die nageslag van Saul en Dawid, maar Dawid het gaandeweg al hoe sterker geword en die nageslag van Saul al hoe swakker.”
2 Samuel 3:1, 1983-vertaling
 
Die Here het 'n verbond gesluit met Abraham, dat Hy sy God sal wees, en vir hom 'n eie land, en 'n groot nageslag sou gee. Die volk van die Here is na Abraham se kleinseun Jakob vernoem, na sy stryd met die Here nou bekend as Israel. Die seuns van Jakob het die stamme van Israel geword, met Josef se twee seuns Efraim en Manasse as 'n halwe stam elk. Die Here se plan was om hierdie nasie te seën, sodat hulle 'n seën vir die wêreld sou wees.
 
In Psalm 133 skryf Dawid: “Hoe goed, hoe mooi is dit as broers eensgesind saam woon! ... Waar broers so saam woon, skenk die Here sy seën: 'n lang, lang lewe.” Dawid was diep bewus van die seën wat eensgesindheid meebring. Van sy kant af wou hy in vrede lewe. Maar van koning Saul se kant af, en na sy dood, van sy oorlewende nageslag af, was daar jaloesie en twis. Daar was in die tyd na Saul se dood 'n burgeroorlog tussen die ondersteuners van Saul, en dié van Dawid. In die proses is baie lewens vernietig. Sekere saad is gesaai wat jare lank onkruid sou voortbring in die verhaal van Dawid se koningskap.
 
Indien die land na Saul se dood verenig het onder Dawid se koningskap, soos deur die profete bekend gemaak is, sou dit baie sterker wees. Stabiliteit en voorspoed sou soveel gouer in die land kon gebeur. Wanneer die partyskappe egter belangriker as die voordeel van die land word, is daar trane.
 
Die meeste van ons is nou nie konings nie. Ons het ons eie verantwoordelikheidsareas. In dit wat ons aanpak, geld hierdie beginsels ook. Elkeen van ons is deel van iets groter as ons, soos ons familie en ons kerk. Eensgesindheid en samewerking bereik baie meer as wanneer elkeen net na hulle eie belange kyk. Onthou die roeping wat Paulus vir ons as gelowiges gee in Romeine 12:14 “As dit moontlik is, sover dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense.”
 
Gebed: Here, ons begeer die seën van die Here in ons lewe. Ons wil so graag in vrede met ander mense lewe. Maar daar is so baie haat, konflik en geweld rondom ons. Help ons om vredemakers te wees, soos Jesus ons geleer het. Help my om ook in u koninkryk na eensgesindheid en vrede te strewe, sodat U verheerlik kan word. Amen.