Ewald Schmidt 

“Dawid het toe gegaan, vergesel van sy twee vrouens, Aginoam van Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet. Hy het ook sy manskappe met hulle gesinne laat saamgaan, en hulle het almal in die gebied van Hebron gaan woon. Daar het die burgers van Juda vir Dawid tot hulle koning kom salf.” 2 Samuel 2:2-4, 1983-vertaling
 
Dawid was as jong seun reeds tot koning van Israel gesalf. Vir die volgende twintig jaar het hy geweet wat sy roeping is, maar daar was 'n groeiproses nodig om gereed te wees om dit in ontvangs te neem. Die boek 1 Konings eindig waar koning Saul en sy seuns sneuwel in die oorlog teen die Filistyne by Gilboa. In 2 Konings 1 treur Dawid oor die dood van die Here se gesalfde, en van sy vriend Jonatan.
 
Die Here stuur hom, sy gesin, en sy manskappe om in Hebron, in die streek van Juda te gaan woon. Daar word Dawid deur die inwoners van Juda tot hulle koning gekroon. Dit lyk soos sukses, maar dit is nog net die begin. Een stam het Dawid nou as koning erken. Saul se weermaghoof, Abner, kroon Saul se seun Is-Boset tot koning van Israel. Daar staan in 2 Samuel 2:10-11 – “Saul se seun Is-Boset was veertig jaar oud toe hy koning van Israel geword het en hy het twee jaar geregeer. Net die Judastam het vir Dawid ondersteun. Dawid was sewe en 'n half jaar in Hebron koning oor Juda.”
 
Om 'n leier te wees, vra groot geduld, en baie deursettingsvermoë. 'n Leier kan op 'n vroeë ouderdom reeds bewus wees van die potensiaal in sy of haar lewe. Wanneer die Here 'n groot roeping vir jou lewe beplan het, gaan dit nie sommer maklik gebeur nie. Dit kom ook selde alles op een slag na jou toe. In die skool van die lewe leer 'n mens dikwels eers nederigheid. Daar word eers aan jou karakter gevorm, sodat jy die taak wat die Here aan jou opdra, waardig is. Dikwels moet die leer van sukses stukkie vir stukkie geklim word. Leer by Dawid. Moenie moedeloos word nie. Vertrou die Here, en hou elke dag aan om die regte ding te doen. Gee aandag aan die klein dingetjies wat oor jou pad kom, en wees getrou daarin. Wanneer die groot geleentheid aanbreek, is jy gereed om jou rol ten volle te vervul. 

Gebed: Here, dankie dat U nooit laat is in u beplanning vir my lewe nie. In hierdie dae, wanneer dit so lyk asof ons nie vorder met ons beplanning nie, is U steeds Koning en Here oor almal. Help my om U te vertrou wanneer dit lyk asof die lewe stilstaan. Help my deur u Gees se leiding en krag om getrou te wees in elke dag se taak, mag alles meewerk tot u eer! Amen.