Ewald Schmidt 

“Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig.” Psalm 23:4, 1983-vertaling
 
Hierdie woorde maak baie sin as ons die volgende fase van Dawid se lewe deurlees. Dawid was as tienjarige seun reeds as koning van Israel gesalf. Maar hy moes nog twintig jaar wag voordat sy roeping as koning in vervulling gegaan het. In hierdie twintig jaar was Dawid gebrei deur die harde skool van die lewe. 
 
Die Here het dit so bewerk dat hy koning Saul se musikant word, en later bevorder is tot sy persoonlike wapendraer. Nadat hy Goliat oorwin het, het Dawid se legende begin leef onder die volk. Op 'n dag hoor koning Saul dat die vroue van Israel dans en sing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” (1 Samuel 18:7) Dadelik het die groen monster in Saul begin lewe, hy was jaloers op Dawid se sukses. Hy het Dawid begin vrees, omdat hy die potensiaal raakgesien het wat in Dawid begin ontwikkel het. Hy spreek sy vrees in 1 Samuel 18:8 uit: “Netnou word hy nog koning ook …” As Saul geweet het van Dawid wat reeds as koning in sy plek gesalf was, sou hy oor die afgrond stort. Hy het Dawid met 'n passie begin haat, en hom probeer doodmaak.
 
In hierdie tyd het Dawid niks verkeerd gedoen nie. Hy het sy koning met lojaliteit probeer dien. Hy het by tye gevlug vir sy lewe, soms met Jonatan se hulp. Hy was meer as een keer in 'n posisie om Saul dood te maak, dan sny hy net 'n puntjie van sy mantel af (1 Samuel 24:5). Wat ons in Dawid se lewe hier moet raaksien, is dat die regte pad nie altyd maklik is nie. Die lewe kan soms bitterlik onregverdig wees, en die moeilikheid wyk nie net omdat jy die regte dinge doen nie.
 
Maar God laat alles ten goede meewerk, en al hierdie stryd en onrus het gehelp om Dawid se karakter te vorm. In die donker dieptes van die lewe het hy gevind dat die Here hom steeds lei. Daar het hy ontdek dat hy vir niks bang hoef te wees nie, want God bly in beheer. Dit vra groot geloof om in die storms van die lewe so op die Here te vertrou. Maar dit bring soveel vrede wanneer ek kan bely: In u hande is ek altyd veilig!
 
Gebed: Here, die lewe maak nie altyd sin nie. Ek verstaan nie alles wat met my gebeur nie. Maar ek volg in u spoor, waar U my lei. Ek weet die Goeie Herder lei my, ek vertrou U vir die rus, en die waters waar vrede is. Dankie dat ek by U altyd veilig is. Amen.