Ewald Schmidt 

“… Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam …” Psalm 23: 3b, 1983-vertaling
 
Dawid was intens daarvan bewus dat die Here hom geroep het. As jong seun het Samuel hom gesalf om die volgende koning van Israel te wees. Dawid sou 'n man na God se hart genoem word (Handelinge 13:22). Een van die belangrikste redes daarvoor was dat Dawid onthou het wie sy Herder in die lewe is. Hy het geweet hoe afhanklik hy van die Here se leiding was om 'n sukses te maak van sy lewe. Daarom is een van die belangrikste dinge waarvoor hy voortdurend bly bid het, dat die Here hom sal lei op die regte paaie. Een pragtige voorbeeld sien ons in Psalm 139:23-24 “Deurgrond my, o God, deurgrond my hart, ondersoek my, sien tog my onrus raak. Kyk of ek nie op die verkeerde pad is nie en lei my op die beproefde pad!"
 
Hoe het die Here hom gelei? Ons lees in 1 Samuel 16:13 dat die Heilige Gees van die dag van sy salwing af kragtig in hom gewerk het. Die Here het ook deur profete met Dawid gepraat. Samuel het 'n groot rol in sy lewe gespeel, Natan moes hom teregwys wanneer hy afdwaal. Dawid sou hom ook omring met goeie raadgewers, en ons het gesien watter rol geloofsvriende in sy lewe gespeel het met Jonatan.
 
Niemand van ons het al die wysheid om self ons weg te vind in die lewe nie. Soos met Dawid lei die Here ons graag deur sy Heilige Gees. Ons het die voorreg om die profete se stemme in ons Bybels te lees, en die Here se Woord volledig beskikbaar te hê. Dit is baie goed as ons iemand in ons lewe het wat 'n mentorsrol speel – iemand wat langer as ons die pad van die Here stap, by wie ons kan leer. Dit doen ons ook baie goed om geestelike vriende in ons lewens te hê, manne en vroue wat vir die Here, en vir ons baie lief is, wat saam vir ons bid, ons bemoedig en aanspoor om die Here met oorgawe te dien.
 
Gebed: Here, dankie dat U my graag wil lei, op die regte paaie, tot die eer van u Naam. Dankie dat U deur die Heilige Gees vir my waarsku wanneer ek verkeerde afdraaipaaie nader. Maak my altyd sensitief vir u stem, hou my nederig en leerbaar deur u Gees. Amen.