Ewald Schmidt 

“Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself.” 1 Samuel 18:1-3, 1983-vertaling
 
Die Here het al in Genesis 2:18 gesê dat dit nie goed is vir 'n mens om alleen te wees nie. Van kleins af het elke mens die behoefte aan vriende.
 
'n Vriend is iemand wat jou onvoorwaardelik liefhet. Hulle ken jou soms beter as wat jy jouself ken. Hulle sien jou potensiaal raak, waar jy in jou foute en mislukkings vaskyk. Hulle sien jou op jou slegste dae, in jou donkerste buie, en kies steeds om 'n pad saam met jou deur die lewe te stap.
 
'n Ware vriend het jou beste belange op die hart. Hulle beskerm jou rug teen die vyand se aanvalle. Jonatan het dikwels vir Dawid opgekom, wanneer sy pa, koning Saul, Dawid wou doodmaak. Hy gee vir Dawid sy mantel in 1 Samuel 18:4, wat sy eie identiteit as prins aangedui het. Hiermee het hy die skaapwagtertjie in sy oë tot prinslike status verhef – 'n vriend tel jou op en laat jou hoër vlieg! Hy gee ook sy swaard, boog en gordel vir Dawid. Sy wapentuig sou seker van die beste wees wat daar is, en meer Dawid-grootte as sy pa s’n. Daarmee het hy Dawid probeer beskerm in die stryd van die lewe.
 
Hierdie vriendskap met Jonatan het Dawid deur baie jare se moeilike tye gedra. Ons elkeen het sulke vriende nodig in ons lewe. Geloofsvriende, wat die Here oor ons pad bring. Manne of vroue wat die Here liefhet, en ook vir ons. Mense met wie jy die lewe se ervarings kan deel. Spreuke 27:17 sê “Yster slyp yster, vriende vorm mekaar.”
 
So 'n vriendskap is 'n geskenk van God. Dit vat jare lank om in diepte te groei. Dit vat tyd en opofferings om dit in stand te hou. Ons kan maar net enkele sulke vriendskappe in ons lewe in stand hou. Daarom het CJ Langenhoven gesê ons moet ons vriendelikheid goedkoop maak, maar ons vriendskap duur. Wees vriendelik teenoor alle mense. Maar pas ware vriende mooi op. Wil jy so 'n vriend soos Jonatan hê? Wees dan een, soos Dawid!
 
Gebed: Dankie Here, vir die vriende in my lewe. Dankie vir mense wat my liefhet, ondersteun, en optel waar ek val. Help my om ook vir hulle 'n goeie vriend te wees, wat waarde toevoeg tot hulle lewens. Amen.