Ewald Schmidt 

“Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. Hy gee my nuwe krag.” Psalm 23:2-3a, 1983-vertaling
 
Dawid is gesalf om as koning van Israel die Here te dien. Toe los die Here hom nog vir jare tussen die skape! Die doel was nie om Dawid te verneder nie, maar om hom te vorm vir dit wat voorlê. In die veld is daar baie tyd vir diep dink. Dawid leer groot lesse oor die lewe, wat hy in sy Psalms met ons, die gelowiges van alle tye, sou deel.
 
Dawid het rus by die Here gevind. In die Midde-Ooste is 'n groen weiveld 'n skaars ding. Die normale ervaring is om van bossie tot bossie saam met die skape te trek. 'n Groen weiveld simboliseer versorging, en oorvloed. Dawid gebruik hierdie beeld om te sê: die Here gee mooi tye in my lewe, Hy versorg my diepste behoeftes. Die tweede beeld is net so kosbaar in die dorre Midde-Ooste waar hierdie lied gebore is. Daar is vars drinkwater baie skaars, en trek herders ver om hulle diere te laat drink. Water is een van ons mees basiese behoeftes. As ons dan water in oorvloed het, op 'n pragtige plek waar daar vrede is, dan ervaar 'n mens diep sielerus. Dawid het in die woestyn geleer: die Here sorg vir my. Die Here gee my rus! Hy maak my lewe die moeite werd. Dit maak hom 'n diep dankbare mens.
 
In so 'n warm woestynwêreld, waar kos en water skaars is, is die lewe hard op 'n mens. Dit is baie uitputtend, veral as jy op 'n baie warm dag nie water raakloop nie. Met hierdie beeld vertel Dawid mos maar van die lewensreis, waarin ons soms baie moeg word. In die groen weivelde, by waters van vrede, ontmoet ons die Here op ons lewenspad. Daar vul Hy ons siel met nuwe krag.
 
Ek en jy het nie al die antwoorde in ons lewe nie. Ons het nie al die middele vir al die eise wat aan ons gestel word nie. Ons word moeg, ons raak uitgeput, en soms selfs moedeloos. Wanneer 'n mens so voel, is dit tyd om weer by die Here stil te kom word. Om diep te drink uit sy fontein met lewende water. Dit gebeur nie sommer vanself met ons besige dagboeke nie. Ons moet tyd maak om by die Here se fonteine rus te vind. Daar kry ons nuwe krag, om die lewenspad met vars entoesiasme en ywer aan te pak.
 
Gebed: Here, dankie vir u versorging in my lewe elke dag. Dankie vir soveel genade en liefde. Dankie dat U my krag gee vir my lewenspad, ook vir vandag! Amen