Ewald Schmidt 

“Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het … Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.”  1 Samuel 17:45,47, 1983-vertaling
 
Die hele lewe word gekenmerk deur die stryd tussen goed en kwaad, tussen lig en duisternis. Goliat die reus is die verteenwoordiger van die duisternis. Hy is fisies groot en baie sterk. Hy spot die God van Israel, en dink dat sy weermag nie tot veel in staat is nie. Hy maak staat op sy groot krag en die intimidasiefaktor daarvan. Hy floreer op vrees en twyfel. Hy maak staat op die wêreld se wapens, groot en magtige wapens.
 
Dawid verteenwoordig die lig, die goeie, die koninkryk van God. Dawid besef hy is jonk, klein en swak. Hierdie oorwinning gaan nie deur sy eie mag kom nie. Menslike wapens kan hom nie help nie. Maar hy ken die God van Israel, en hy staan op vir wat reg is. Onthou met sy salwing as koning het hy nog die Heilige Gees ook ontvang, en sy wapen is die Naam van die Here, die Almagtige God.
 
Baie mense het gevrees om die reus aan te pak. Dawid was van mening dat hy so groot is dat 'n mens hom nie kan misgooi nie! Goliat spot Dawid toe hy nader kom met skaapwagtersklere aan, net sy staf en sy slingervel. Maar Dawid tref hom met die eerste klip teen die kop. Wanneer hy bewusteloos neerval, maak Dawid 'n einde aan sy lewe met sy eie swaard. Die reus hét geval. Die klein Dawid het die groot Goliat verslaan. Hy het dit nie uit eie krag gedoen nie, maar in vertroue op die Here.
 
Jou reus het 'n ander naam. Jy het ander uitdagings op jou lewenspad. Maar elkeen van ons beleef soms die teenstand van die duisternis. Deur vertroue in die Here, met die wapens van die Gees en die krag wat Hy ons gee, sal elke reus val voor die Here se Naam. Glo dit. Hou daaraan vas in die tye wat jou reus raas en skree. Jou God is magtiger as jou reus.
 
Gebed: Dankie Here, dat ek U mag ken! Dankie dat ek aan U mag behoort, ek is u kind. Ek het die krag van die Heilige Gees in my, wat Jesus uit die dood opgewek het. Ek het die wapenrusting van die Gees. Die vyand mag sterk wees, maar U is die oorwinnaar in elke stryd. Dankie dat U my help om my reus te oorwin! Amen.