Ewald Schmidt 

“Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?” 1 Samuel 17:26, 1983-vertaling
 
Dawid het om die beurt vir Saul gewerk as musikant, en dan weer sy pa se skape gaan oppas (1 Samuel 17:15). Israel se aartsvyande, die Filistyne, het weer opgetrek om teen hulle oorlog te maak. Daar was eers 'n koue oorlog, vol intimidasie. Die Filistyne het 'n reus gehad, Goliat, 'n man van Gat, wat nege meter lank was, en wat 'n wapentuig van 57 kilogram gehad het. Sy spies het soos 'n dwarsbalk van 'n weefstoel gelyk, met 'n sewe kilogram lem aan (1 Samuel 17:6-8). Hy was 'n baasvegter. Hy het elke dag op die hoogte gaan staan, en die mense van Israel uitgedaag om 'n kampioen te stuur om teen hom te kom veg. Hy het Israel, en die God van Israel dag vir dag gestaan en beledig.
 
Nou kyk, koning Saul was self 'n kop langer as sy volksgenote. Hy sou met die Here se hulp Goliat kon aanpak en verslaan. Maar Saul het nie meer op die Here vertrou nie.
 
Dawid se pa stuur hom met voorrade om sy ouer seuns te voed in die oorlog.
 
Dawid het die reus gesien, en gehoor wat hy alles uitroep. Hy het gehoor hoe beledig Goliat die God van Israel. En hy was skaam dat niemand van sy volk bereid was om die uitdaging te aanvaar nie. Hy vra in ons teksvers wat sal gebeur met die man wat die probleem aanspreek en opstaan vir God se eer. Ons lees dat sy ouboet, Eliab, hoor wat hy vra in vers 28. Hy is sommer dadelik kwaad vir Dawid, hy noem hom vermetel en kwaadwillig, en net daar om na die geveg te kom kyk. Selfs Eliab was baie groter as Dawid, maar het nie die moed om die reus aan te pak nie.
 
Ons sien iets van Dawid se karakter en geloof in hierdie hoofstuk. Daar is groot fout, en niemand is bereid om iets daaraan te doen nie. As hy dink om die regte ding te doen, word hy verkleineer. 'n Ware leier laat hom/haar nie afskrik om die probleem te identifiseer, en maniere te soek om dit te hanteer nie. Soms het ons ook reuse wat ons uitdaag, hulle het net ander name. Sien hulle raak, en begin God se strategie soek om dit te hanteer. 

Gebed: Here, in hierdie lewe is daar baie reuse. Dinge wat groter as ons is, wat lyk of dit ons baie seer kan maak. Help ons om ons reuse betyds raak te sien, en U daaroor te raadpleeg. Met u hulp sal elke reus sy plek ontdek! Amen.