Ewald Schmidt 

“Maar Hy sê vir Samuel:”Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” 1 Samuel 16:7, 1983-vertaling
 
Ons dink so dikwels dat ons agtergrond ons pootjie om 'n groot sukses van ons lewens te maak. Ons dink ander mense het beter geleenthede gehad, daarom is hulle waarskynlik eerder die Here se eerste keuse om 'n lewensroeping suksesvol af te handel. Maar die Here verras ons elke keer. Ons gaan hierdie maand na Dawid se lewe kyk, een van die heel belangrikste karakters in die Bybel. Koning Saul was die eerste koning van Israel, 'n indrukwekkende figuur uit die stam van Benjamin. Saul het so goed begin. Hy is met die Heilige Gees vervul, en het as profeet opgetree (1 Samuel 10:6). Maar mettertyd het sy trots oorgeneem. Hy het van die Here se pad begin wegdraai, en afgode begin dien. Daarom het die Here sy koningskap verwerp, al het Hy hom nog 20 jaar genadetyd gegee om terug te draai.
 
Die Here stuur sy profeet Samuel na die huis van Isai, uit die stam van Juda. Daar moet hy die volgende koning van Israel salf. Samuel sien eerste die oudste seun, Eliab, raak. Hy is net soos Saul 'n groot en sterk man, baie indrukwekkend. Maar die Here sê ons teksvers se woorde vir Samuel. So sou nog ses ander broers verby kom, maar nie een van hulle is die Here se geroepene nie. Samuel vra in vers 11 of daar nie nog een seun êrens is nie, dan eers onthou hulle die jongste seun wat skape in die veld oppas. Dawid was rooierig van voorkoms, met mooi oë. Die Here wys hom aan as die volgende koning van Israel. Samuel salf hom, al sou dit nog 20 jaar wees voor hy die troon bestyg. Sy familie was maar gering in Juda en Israel. Hy was die jongste broer, die laaste een wat die familie sou dink koning kon word. Maar van Hom sê die Here in 1 Samuel 16:3 “Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir my 'n koning.”
 
Dis die heel belangrikste vraag: Hoe sien die Here jou? Wat is die potensiaal wat Hy in jou geplaas het?
 
Gebed: Here, dankie dat U my gemaak het. Dankie dat U weet wie ek is, U sien die potensiaal in my binneste raak. Vergewe my waar ek myself so meet teen die wêreld se opinie van my. Vergewe my waar ek ander aan die uiterlike dinge meet. Help my om u roeping in my lewe voluit uit te leef, tot u eer. Amen.