Ben Fourie 

“In die land Us was daar ’n man met die naam Job. Hierdie man was opreg en onberispelik in sy optrede, hy het vir God ontsag gehad en die kwaad vermy.” Job 1:1, 2020-vertaling
 
’n Mens kan nie ’n reeks wat handel oor hoe God mense in die Ou Testament uitgesoek en gebruik het afsluit sonder om by Job uit te kom nie. Tog is Job nie uitgesoek soos byvoorbeeld Moses om die volk uit Egipte te lei of Ester wat moes pleit vir die behoud van haar mense nie. Job is uitgesoek om ’n heel ander doel.
 
Ons weet nie wie Job was nie en waar hy gewoon het nie. Die land Us word op enkele ander plekke genoem en was dalk in Edom geleë, maar daar kon nog nooit presies bepaal word waar nie. Job was baie moontlik nie ’n Israeliet nie. Die Griekse vertaling van die Ou Testament identifiseer Job met die Edomitiese koning Jobab, maar ook daaroor is geen sekerheid nie.
 
Wat wel belangrik is, is dat die Bybel Job beskryf as ’n opregte en onberispelike persoon wat vir God ontsag gehad het. Ons gebruik graag vir Job as ’n voorbeeld van geduld en bewonder sy vaste geloof dat dit nie as gevolg van sy sonde is wat die rampe hom getref het nie. Dit is alles so, maar op die ou end gaan dit nie oor wie Job is nie, maar oor wie God is.
 
Die boek se hoofboodskap is dat God soewerein is, dat al kan en sal ons ook baie vrae hê oor wat met ons in die lewe gebeur, ons nie vir God kan bevraagteken nie. Ook Job begin mettertyd vrae vra, maar steeds kom God se antwoord dat Job en natuurlik ook ons, eintlik geen reg het om God se optrede te bevraagteken nie. Ons bly immers net mense en Hy is altyd God Almagtig.
 
Ons kan seker almal bely dat ons dit soms moeilik vind om juis dit te aanvaar, veral wanneer dit so onregverdig lyk as dinge vir ons heeltemal skeefloop. Maar op die ou end vind ons die grootste vreugde wanneer ons ook soos Job in hoofstuk 42 vers 2 en 3b tot die besef kom: “Ek weet dat U alles kan vermag, dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie ... ek het, sonder begrip, ja sonder kennis, my mening gegee oor dinge wat vir my te wonderbaar is.”
 
Gebed: Baie dankie Here dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie, ja ook u plan met my lewe. Amen