Ben Fourie 

“Ek koning Artasasta, het die volgende opdrag gegee aan al die tesouriere in Wes-Eufraat, 'Alles wat Esra die priester, kenner van die wet van God van die hemel, julle vra, moet noukeurig gelewer word,” Esra 7:21
 
Esra en Nehemia is vir baie van ons ietwat onbekende en vreemde figure, maar ons kan hulle tereg God se boumeesters noem, nie net vir die heropbou van die tempel en Jerusalem nie, maar veral ook van die volk van God self. Die boeke 1 en 2 Kronieke en Esra en Nehemia het in ’n stadium ’n eenheid gevorm en het waarskynlik tussen 450 en 400 v.C. finale beslag gekry. Dit beskryf ’n tydperk van ongeveer tagtig jaar.
 
Daar was ’n eerste groep bannelinge wat reeds deur Kores toestemming gekry het om na Jerusalem terug te keer. Hulle het ywerig begin met die heropbou, maar teenstanders het hulle verdryf en die werk ongedaan gemaak. In die tyd van koning Artasasta (ongeveer 444 v.C.) is Nehemia in die vestingstad Susan (sien ook die boek Ester). Daar hoor hy by sy broer Hanani wat uit Juda gekom het van die ellende waarin die volk verkeer. Jerusalem se mure is weer afgebreek en die poorte verbrand. Hy kry toestemming van Artasasta om na Jerusalem te reis en later word hy as goewerneur of administrateur oor Juda aangestel. Hy kry verder finansiële ondersteuning van Artasasta om Jerusalem en die tempel te herbou. (Sien weer ons vers vir die dag). Daar is egter steeds vyandelike aanvalle wat Nehemia dwing om die volk te bewapen, maar tog word die stadsmure en die tempel herbou.
 
Esra, lees ons in hoofstuk 7:6, was ’n skrifgeleerde “kundig in die wet van Moses wat die HERE die God van Israel gegee het” asook priester. Hy het ’n groot rol gespeel om weer die aanbidding van die enigste God, asook die tempeldiens, te herstel. In Nehemia 8 lees ons hoe hy die boekrol met die Wet aan die volk voorgelees het.
 
Twee manne met uiteenlopende talente, maar net een doel. Administrateur en skrifgeleerde wat saam deur God gebruik word om sy volk weer in hulle land te vestig. Hoe noodsaaklik die terugkeer en opbou werklik was, sien ons wanneer die Messias meer as 400 jaar later uit die geslagslyn van teruggekeerde bannelinge gebore word.
 
Gebed: Hemelse Vader ek wil ook die talente wat U my gegee het in u koninkryk aanwend. Wys my asseblief waar U my kan gebruik. Amen