Ben Fourie 

“Die vrou het toe ’n seun in die wêreld gebring en hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die Here het hom geseën.” Rigters 13:24, 2020-vertaling
 
As seuntjies het ons baklei oor wie die sterkste is: Simson, Herkules of Superman. Superman het gewoonlik gewen omdat hy oor 'n soort bonatuurlike krag beskik het. Ons was nog te jonk om te besef Simson was ook met besondere (bonatuurlike) krag geseën, want hy is spesiaal uitgesoek toe die volk van God deur die Filistyne onderdruk is. Hy word 'n nasireër genoem, iemand wat spesiaal afgesonder is in diens van God.
 
Hy was nie 'n maklike mens nie. Een dag slaan hy 'n leeu dood en dan weer dertig manne van Askelon. Hy jaag driehonderd jakkalse met fakkels aan hulle sterte in die Filistyne se ongeoeste graan in en verbrand hulle hele oes. Hy slaan 'n duisend man met 'n eselkakebeen dood en by nog 'n geleentheid ruk hy die stad se groot deure met kosyne en al uit die mure. Sy ouers het baie dae seker maar hulle harte vasgehou.
 
Vir twintig jaar lank rig hy die volk van God en hou die Filistyne in toom, maar toe swig hy voor Delila en verloor sy besondere krag. Hy verloor ook sy besondere verhouding met God. Hy was nou nie meer nasireër nie, nie meer afgesonder in God se diens nie. Eensaam en blind is hy by die fees ter ere van die afgod Dagon die skyf van alle grappies, iemand wat die Filistynse feesgangers moes vermaak.
 
Wanneer hy egter na God roep om krag, word hy verhoor en keer sy eens onoorwinlike krag terug sodat hy die tempel pilare omruk. Hy sterf saam met die Filistynse heersers en ander feesgangers en behaal so in sy dood 'n groot oorwinning.
 
Is die storie maar net 'n Bybelse sprokie van 'n baie sterk man soos wat ons as seuntjies gedink het, of het die verhaal iets vir ons te sê? Sprokie beslis nie, maar wel 'n ware eg menslike verhaal van 'n baie besondere mens wat in God se diens sy volk beskerm het teen hulle vyande. Na sy sonde en val roep hy weer na God en die wonder van die hele storie is dat God hom antwoord. God hou nooit op om na ons te soek nie.
 
Gebed: Hemelse Vader help my om te besef dat ek ook iemand baie besonders in u diens is. Help my om so te lewe dat ander ook kan sien dat ek vir U afgesonder is.  Amen