Ben Fourie 

“…Hulle het gegaan en by die huis van ’n prostituut met die naam Ragab aangekom en daar oornag.” Josua 2:1b, 2020-vertaling
 
Om 'n prostituut in jou familie stamboom te hê sal iets wees waaroor die meeste mense liefs wou swyg. Tog is die Bybel in Matteus 1 vers 5 heel openlik daaroor dat daar baie ver terug (meer as duisend jaar) in Jesus se geslagsregister iemand met die naam Ragab was. Die meeste kommentators aanvaar dat die Ragab van Matteus en die Ragab van Josua dieselfde persoon is. 'n Mens sou kon vra of daar in Jerigo dan nie iemand beter was wat God kon kies as hierdie vrou wat eerstens nie eers ‘n Israeliet was nie (waarskynlik 'n Kanaäniet) en dan nogal een met 'n slegte reputasie.
 
Tog is sy God se keuse vir die besondere taak om die twee verkenners weg te steek en weer veilig uit die stad te kry wanneer sy hulle deur die venster laat ontsnap. As ons die hele hoofstuk twee uit Josua lees, ontvou die prentjie van 'n baie dapper vrou. Sy steek die twee verkenners weg op gevaar af van nie net haar eie lewe te verloor nie, maar ook die van haar hele familie, vader, moeder, broers, susters en almal wat by hulle hoort.
 
Waarom sou sy so iets doen? Die antwoord is eenvoudig dit wat sy in vers 11 se tweede deel sê: “Die Here julle God, Hy is immers God in die hemel daar bo en op die aarde hieronder.” Waar sou sy hoegenaamd van die God van Israel gehoor het? Die storie van die Israeliete se deurtog deur die Rietsee en hulle swerftog in die woestyn was heel waarskynlik wyer bekend as wat 'n mens sou dink. Stories het soos vandag ook maar vinnig versprei. Iets van hierdie stories oor die Groot God van die Israeliete het haar aangeraak, maar meer nog, God self het haar aangeraak en uitgesoek om die rol te vervul.
 
God kies sonder aansien van die persoon en gebruik mense in sy diens. Ook vir jou en vir my.
 
Gebed: Dankie, dat U ons aanraak en wil gebruik tot u eer. Amen