Ben Fourie 

“Toe die seuntjie groter geword het, het sy hom na die farao se dogter gebring en hy het haar seun geword. Sy het hom Moses genoem, ‘Want’ het sy gesê, ‘uit die water het ek hom gehaal.’” Eksodus 2:10, 2020-vertaling
 
As daar iemand was wat eintlik nie in die rol sou pas om die volk Israel uit die slawerny van Egipte te lei nie, was dit seker Moses. Hy het as 'n Egiptiese prins grootgeword, was gewoond aan die beste kos en klere, fyn opvoeding en volgens sy eie belydenis “swaar van mond en swaar van tong”. Hy moet nou hierdie klomp slawe se leier word. Tog het God hom reeds as baba uitgesoek vir die groot opdrag.
 
Die verhaal van sy geboorte, sy redding deur die farao se dogter en hoe hy as haar seun in die paleis grootgeword het, was voorbereiding vir sy rol as voorspraak vir sy volk, spraakgebrek of te nie. Hy was gewoond aan die farao se hof en sou nie deur al die prag en praal afgesit word nie.
 
In sy hart het hy 'n Hebreër gebly wat soms uitgegaan het na waar sy volksgenote slawearbeid verrig het, soos op die dag toe hy die Egiptenaar doodgeslaan het. Hier begin God ‘n pad met Moses stap tot by die brandende bos, die gesprekke met die farao, die instelling van die Pasga en die tog deur die Rietsee die woestyn in tot by die berg Horeb.
 
Horeb (ook genoem berg Sinai) was naby aan die plek waar Moses die bos sien brand het. Op Horeb ontmoet hy God self en vertrou God ook aan hom die twee kliptafels met die Tien Gebooie daarop toe. Aan hom word die wette en reëls toevertrou sodat hierdie uitverkore volk van God deur die eeue heen die bewaarders kon bly van die enigste godsdiens wat die ware God aanbid het.
 
Moses was 'n buitengewone mens, maar tog ook 'n gewone mens wat moeilik gepraat het, behoorlik kon kwaad word, moedeloos kon word, hand in die hare kon sit met die wederstrewige volk en wat verlangend vanaf berg Nebo moes kyk na die beloofde land wat hom nie beskore was nie. God het hom met die hand uitgesoek vir hierdie groot werk en hy soek ook elkeen van ons met sy hand van genade uit om elke dag sy werk op aarde te doen.
 
Gebed: U het vir Moses uitgesoek nie omdat hy spesiaal was nie, maar omdat U hom spesiaal gemaak het. Dankie, dat U ook van my iemand baie spesiaal in u koninkryk gemaak het, kind van God die Allerhoogste. Amen