Ben Fourie 

Maar Noag het guns gevind in die oë van die Here. Hier volg die familiegeskiedenis van Noag. Noag was ’n regverdige man, onberispelik in sy optrede tussen sy tydgenote. Hy het naby God geleef.” Genesis 6:8-9, 2020-vertaling
 
Oral in die Bybel lees ons hoe God mense roep en gebruik in sy diens, soms baie spesiale mense soos Noag. Spesiaal omdat hy regverdig was en naby God geleef het. Spesiale mense is nie noodwendig die nommer een in die samelewing of die rykste nie, maar hulle het sekere kwaliteite en hulle leef naby God.
 
Die verhaal van die groot vloed is een waaroor baie gespekuleer is. Sommige mense verwerp dit as ’n blote mite. Ander het ’n leeftyd spandeer om te soek na die oorblyfsels van die ark teen die berg Ararat wat in die hedendaagse Turkye geleë is. Groot ophef is al gemaak van ontdekkings van stukke hout wat dalk van die ark af kom, maar niks is nog bewys nie. Daar is natuurlik in die literatuur van die ou volkere verskillende weergawes van die verhaal van ’n groot vloed. Die bekendste hiervan, die Gilgamesh verhaal, dateer uit ongeveer 1100 v.C. en kom uit die Babiloniese geskrifte. Dit kom nogal baie ooreen met die Bybelverhaal.
 
Wie Noag in die geskiedenis was, weet ons nie, maar dit is nie noodsaaklik vir die boodskap van die verhaal nie, want die boodskap gaan weer eens nie oor geskiedkundige korrektheid nie. Dit gaan oor God wat te midde van ‘n groot ramp iemand gebruik om te sorg dat die mensdom nie totaal uitgewis word nie.
 
God wil nog elke dag hê dat mense gered word, nou nie meer uit ’n watervloed nie, maar uit die dieptes van sonde en hy soek jou om as ’n Noag vir die wêreld te wees. Mense het seker maar vir Noag gelag toe hy ’n ark op droë grond bou, maar moenie terugstaan nie. As ’n mens naby aan God leef, steur jy jou nie daaraan nie, maar voer God se opdrag uit.
 
Gebed: Hemelse Vader ons sê baie dankie dat U ons ook wil en kan gebruik om ’n hand uit te steek na mense wat verdrink in die see van die wêreld. Hier is ek ook. Gebruik my. Amen