Ben Fourie 

“Die HERE God het na die mens geroep en vir hom gevra “Waar is jy?””  Genesis 3:9, 2020-vertaling
 
Oor die skeppingsverhaal is al baie verklarings aangebied om die verhaal te probeer versoen met die wetenskaplike gegewens oor die ontstaan van die heelal en die mens. Oor wanneer presies die skeppingsverhaal geskryf is, is daar ook geen sekerheid nie. Die Joodse tradisie is dat die eerste vyf boeke van die Bybel deur Moses geskryf is. Ander plaas dit in Salomo se tyd. ’n Teorie wat baie veld gewen het, is dat die finale vorm van Genesis waarskynlik eers tydens die Babiloniese ballingskap afgehandel is. Taalgebruik en ander faktore dra by tot die aanspraak van hierdie latere tydperk.
 
Hoe interessant hierdie navorsing ook mag wees, lê die kern van die verhaal van die skepping van die mens vir my egter nie in wetenskaplike gegewens of feite nie. Ek glo dat God alles geskep het, maar hoe en waar en wanneer is nie vir my die belangrikste nie. Veel eerder lê die kern van die verhaal in drie klein woordjies: “Waar is jy?”
 
Net drie woorde, maar in hierdie drie woorde lê die hele boodskap van die Bybel opgesluit. God soek na die mens. Dit was kort na die sondeval en die mens het vir God weggekruip uit vrees vir wat sou gebeur as Hy uitvind dat hulle van die boom van kennis geëet het. God het alle rede gehad om Hom totaal en al van die mens te distansieer. Hy het vir hulle absolute vryheid gegee om te besluit en net een grens gestel. Dit was hulle eie besluit om hierdie grens oor te steek en hulleself sodoende buite God se “paradys” te stel. Niemand sou God kon kwalik neem as Hy hulle net daar aan hulle lot oorgelaat het nie, maar Hy doen net die teenoorgestelde. Hy soek na hulle.
 
In die volgende paar weke gaan ons kyk na ’n klompie figure uit die Ou Testament wat op een of ander wyse deur God gebruik is in sy nimmereindigende soektog na die mens.
 
Gebed: Hoe kan ons ooit vir U genoeg dankie sê dat U ons nooit afskryf nie, maar steeds na ons bly soek. Amen