Carina Francke 

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en 'n regte lewenswyse te kweek, 17sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.
2 Timoteus 3:16-17, 1983-vertaling  Lees ook: Hebreërs 4:12 en Efesiërs 6:17
 
David L Chambers gee die volgende raak beskrywing: “Die Bybel is soos ‘n wilde, maar pragtige landskap wat ons van ver af sien; dof en onduidelik. Maar ‘n goeie teleskoop sal die landskap naderbring en al die rotse, bome, en blomme, vrugbare valleie en sterkvloeiende riviere tot aan ons voete bring. Daardie ‘teleskoop’ is die lering van die Heilige Gees.” 
 
Wat Chambers eintlik hier sê, is dat die Bybel (die Woord) en die Heilige Gees nie van mekaar losgemaak kan word nie. Op sy eie is die mens nie in staat om die onmeetbare rykdom, waarheid en lewe wat in die Woord opgesluit lê, reg te interpreteer en uit te leef nie. As jy dit probeer doen, “proe” jy maar net aan die Skrif; jy sien inderdaad net dof en onduidelik. Ons het die hulp van die Heilige Gees nodig om die volle en bedoelde waarheid van die Woord te ontsluit.
 
2 Timoteus 3:16-17 verklaar: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk.”
 
As jy ‘n kind van die Here is, werk die inwonende Heilige Gees – die Gees van waarheid (Johannes 14:17), verligtend in jou wanneer jy die Bybel lees. Jy kan met vrymoedigheid vra dat Hy “God se geïnspireerde Skrif” vir jou laat “oopgaan” as jy dit lees. Wanneer dit gebeur, is dit asof jy weet dat God op daardie oomblik met jou praat. Die Heilige Gees verlig jou gees om te onderskei tussen ware en vals lering;om teregwysings oor jou leefwyse te aanvaar en die verkeerdhede volgens Woordbeginsels reg te stel,maar ook om sekere dissiplines en gewoontes in jou lewe vas te maak. Lees gerus weer 2 Timoteus 3:16-17.
 
Om ten volle te leef moet ons die kennis wat ons opgedoen het, toepas en gebruik. Anders dien dit geen doel nie en kan ook nie vrug dra nie, aldus die skrywer Matthew Henry. Dit is veral ook waar ten opsigte van kennis van die Woord. Kopkennis van die Woord moet hartkennis, sielkennis en geeskennis word om uiteindelik gestalte te vind in ‘n lewe wat God vereer. Anders is al die studie van die Skrif ‘n tevergeefse versameling van kennis – met min nut en ‘n skaarste aan vrug. Wanneer ons die Skrif lees, moet ons met ons uitgebreide, of beperkte kennis, ons ore gespits hou vir ons Helper, die Heilige Gees se perspektief oor die dowwe en onduidelike areas in ons lewens.
 
Gebed: Met ‘n jubelende dankie-hart, sê ek aan die Vader en Seun: “Dankie dat ons nie as wese en onkundiges agtergelaat is nie, maar dat U die Gees van Waarheid, die Heilige Gees, aan ons gegee het as ons inwonende Helper en Voorspraak om ons op koers te help hou." Amen