Carina Francke 

Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Efesiërs 4:7, 1983-vertaling
 
Maar aan elkeen word die openbaring van die Gees gegee met die oog op wat nuttig is. 1 Korinthiërs 12:7, 1933/1953-vertaling
 
Dit verskaf my groot genot as ek sien hoe 'n geskenk iemand se gesig in 'n breë glimlag kan omtower. Wanneer daar egter meer as een geskenk uit dieselfde geskenkverpakking te voorskyn kom, vergesel oopmond gille dikwels daardie glimlag. Dan klim my vreugde uit sy kassie uit.
 
Nogal gepaste reaksies vir gelowiges wat nie net die Heilige Gees as eerste gawe by wedergeboorte ontvang het nie (Romeine 8:23), maar ook met een of meer van die ander geestelike gawes toevertrou word! Ja, jy kan hierdie belofte gerus ernstig opneem: ”Aan elkeen afsonderlik word 'n werking van die Gees gegee tot voordeel van almal.” (1 Korintiërs 12:7) Het jy gehoor? Elkeen van ons ontvang ten minste een gawe van die Godheid! Onthou tog net dat niemand 'n geestelike gawe ontvang as beloning vir getrouheid nie – die Heilige Gees deel aan elkeen afsonderlik 'n gawe uit soos wat Hy wil. (1 Korintiërs 12:11)
 
Wat is jou eerste gedagte of reaksie wanneer jy 'n geskenk ontvang? Sekerlik nie om dit toegedraai te hou en weg te bêre nie! As jy dit sou doen met die geestelike gawe(s) wat die Vader jou gee, sal jy nooit ontdek wat Hy deur jou geestelike gawe(s) in ander se lewens wou bereik nie. Die vraag aan jou is: Wat gaan jy doen met die geestelike gawe(s) wat jy ontvang het? Dit sal slim wees om dit met dank van die Gewer te ontvang, dit “oop te maak”, en om dan biddend tyd te belê in die verstaan van hoe dit tot voordeel van die Kerk gebruik kan word. Spring dan aan die werk om dit te gebruik.
 
 
Moet net nie vergeet nie, die geestelike gawes wat die Heilige Gees aan gelowiges gee, het eerstens ten doel om God te verheerlik. Verder moet my, jou en elke gelowige se gawe gebruik word om Christus se liggaam toe te rus en op te bou vir hulle dienswerk. Dit werk mee dat ons tot eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God kan kom. En die uitkoms hiervan? “Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.” (Efesiërs 4:13b) Kan jy dit glo? God gebruik jou, my en elke ware gelowige om saam met Hom in mense se geestelike groei te belê. Ek dink die Drie-eenheid is verheug wanneer hulle die toegewydheid sien waarmee gelowiges saam bou aan die koninkryk op aarde.
 
Jy brand dalk om te vra: “Gee tog net 'n voorbeeld of drie van 'n geestelike gawe asseblief?” Daar is onder andere. evangeliste en leraars; 'n woord van wysheid en 'n gees van onderskeiding; helpers, leierskap en dienswerk. Daar is egter veel meer. Lees meer hieroor in Die Gawes van die Gees Deel 2.
 
Mag jy ontdek dat jy nie maar net hier is om te bestaan of net te leef nie. Jy het 'n taak om te verrig. As jy reeds weet wat jou genadegawe is, weet dan ook dat dit 'n werkplig op jou skouers plaas. Die vraag is net, is jy gewillig om deel te word van 'n geestelike wenspan?
 
Gebed: Vader, dankie vir pasella gawes van die Heilige Gees waarmee ek die geestelike dienswerk kan verrig waarvoor U my geroep het. Ek is in alles afhanklik van die leiding van die Heilige Gees, asook om te weet waar ek die koninkryk maksimaal kan dien. Amen