Carina Francke 

En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap; afguns, moord, dronkenskap, brassery en dergelike dinge, waarvan ek julle vooraf sê, soos ek al vroeër gesê het, dat die wat sulke dinge doen, die koninkryk van God nie sal beërwe nie. Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing. Teen sulke dinge is die wet nie. Galasiërs 5:19-23, 1933/1953-vertaling
 
“Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.”
Efesiërs 5:9, 1933/1953-vertaling
 
Onlangs koop ek op ‘n groentemark ‘n kartondoos volgepak met die mooiste, gesondste vrugte. Tuis aangekom, begin ek dit uitsorteer sodat soort by soort in die vrugtemandjie lêplek kry. Dit gaan goed met die eerste laag of twee, maar o, genade, toe beland my vingers in ‘n grillerige pappery. By nadere ondersoek is dit baie duidelik dat nie al die vrugte vars is nie. Dalk gekneus verpak, of erger, reeds sleg tussen die gesondes ingepak. Wat ‘n teleurstelling!
 
Jesus het by verskeie geleenthede sy gehoor en volgelinge daaraan herinner dat elke boom aan sy eie vrugte geken word. (Matteus 7:17) Ek en jy is “mensbome” en word ook aan ons vrugte geken. Die slegte mensboom se hart word sigbaar en hoorbaar uit sy werke, of slegte praktyke – daardie dinge wat hul oorsprong uit die sondige natuur hetaldus Paulus in Galasiërs 5:19-21. Om seker te maak dat ons weet waarvan hy praat, stel hy ‘n lys van dié werke of praktyke van die vlees saam. ‘n Skrikwekkende lys wat oorverdowend skree: “Duisternis! Vrees! Geen erfenis in God se koninkryk nie.” Jy kan jou gerus self daarvan vergewis. Lees die verse.
 
‘n Goeie “mensboom” aan die ander kant, dra goeie vrug – ‘n spontane werk van die inwonende Heilige Gees in die gelowige se lewe. Hy bring hierdie Christus-karaktertrekke, in ons na vore. Let daarop dat dit ‘n enkelvrug is, maar ‘n gesonde een. Metafories gesproke: dink aan ‘n geskilde lemoen waarvan die individuele skyfies sy-aan-sy lê. Elke skyfie het ‘n naam: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selbeheersing. (Galasiërs 5:22, 1983-vertaling) Die onderskeie skyfies verteenwoordig goeie gesindhede, sosiale verhoudinge en die beginsels wat Christelike optrede en gedrag lei. Nie ‘n enkele een van hierdie “skyfies” kan onafhanklik van die Heilige Gees in jou ontwikkel nie. As die gelowige nie deur die Gees lewe nie, en ook nie toelaat dat die Gees sy gedrag bepaal nie, sal geen goeie vrug sigbaar wees nie.
 
In Efesiërs 5:8-9 maak Paulus ons bewus van ‘n Goddelike alternatief vir ‘n gekneusde, papgedrukte lewe in die duisternis – ‘n lewe as mense van die lig wat goeie vrug kan dra! Hierdie Geesvrug: “… bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Efesiërs 5:9, 1933/1953-vertaling) Die 1983-vertaling stel dit so: "Uit die lig kom alles voort wat goed en reg en waar is."
 
Die selfondersoekende vraag aan jou en my is: Dra ons vugte waarvan die oorsprong die lig is? Voldoen dit aan die kenmerke … goedheid, geregtigheid en waarheid?
 
Gebed: Vader, dankie vir die Heilige Gees se betrokkenheid in ons lewens, want sonder Hom is ons rigtingloos en is ons pogings van vrug-dra onmoontlik. Amen