Carina Francke 

Lees: Handelinge 5:1-11, 1983-vertaling
 
Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? Jy het nie vir mense gelieg nie maar vir God.” … Toe sê Petrus vir haar: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart? Die mense wat jou man begrawe het, is nou net weer by die deur, en hulle sal jou ook uitdra.”Handelinge 5:4,9
 
In ons huis was sieps- en braaiboud jou voorland as jy durf waag om 'n leuen te vertel. Waarheid was jou enigste genadepad. My graad 4 onderwyseres se woorde weerklink steeds in my ore: “Al gaan die leuenaar nog so snel, die waarheid agterhaal hom wel.” Waarheid, so lyk dit my, is soos 'n leeu wat vir homself pad maak.
 
In vandag se Skrifgedeelte lees ons die hartseerverhaal van 'n gelowige egpaar, Ananías en Saffíra. Hulle het saam besluit om bedrog te pleeg – hulle hou 'n gedeelte van die koopbedrag van hulle grond terug, maar bring die apostels onder die indruk dat die geld wat hulle geskenk het, die volle koopsom van hulle grond is. En dan vertel beide van hulle boonop 'n leuen, naamlik dat die volle bedrag van die huis net so aan die apostels oorbetaal is.
 
Maar, die Heilige Gees maak die apostel hiervan bewus. Petrus identifiseer die bron van hierdie leuen as hy die man konfronteer: “Ananías, waarom het die Satan jou hart vervul om vir die Heilige Gees te lieg en van die prys van die grond agter te hou? Die grond was mos joune, en toe dit verkoop is, kon jy met die geld gemaak het wat jy wou. Wat het jou besiel om dit te doen? “Jy het nie vir mense gelieg nie, maar vir God.” (Handelinge 5:3-4) By die aanhoor van hierdie woorde val hy dood neer. Dieselfde lot tref Saffíra, maar nie voordat sy hoor wat sy en haar man eintlik gedoen het nie: “Waarom het julle ooreengekom om die Gees van die Here uit te tart?” (Handelinge 5:9)
 
Verstaan jy wat hier gekommunikeer word? Satan self is aktief betrokke by die inisiëring van leuens. As jy gehoor gee aan sy misleidende leuenstem, lieg jy inderdaad vir God en die Heilige Gees. Maar dis nie al nie, telkens wanneer ek, jy, of enige mens 'n leuen vertel, tart ons die Gees van die Here uit. 'n Mens wat die Godheid uittart? Skrikwekkende gedagte!
 
Die Geesvervulde gelowige kan en mag nooit 'n leuen eufemisties verskoon as 'n wit leuentjie of ’n halwe waarheid nie. Waarheid is die hartklop van ons verhouding met die Godheid. Sal jy regop kan bly staan oor jou waarheid as Waarheid Hom voor jou kom staanmaak?
 
Gebed: Vader, stel my in staat om die leuen te herken, my rug daarop te draai en Waarheid te omhels. Amen