Carina Francke 

En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo; want die Heilige Gees was daar nog nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie. Johannes 7:37-39
 
Mense lug graag hul opinie oor mense, veral oor diegene in die openbare oog. In Jesus se tyd was dit nie anders nie. Opinies oor Hom en sy lering in die tempel, het gewissel van Hy is goed, tot Hy mislei die skare. Hulle wou Hom selfs gevange neem. Te midde van hierdie verdeelde opinies, maak Jesus bekend dat Hy binnekort moet terugkeer na sy Vader, die Een wat Hom gestuur het. Hy waarsku hulle egter dat 'n soektog na Hom niks sal oplewer nie, want waar Hy is, kan hulle nie kom nie. Bewus van hulle onsekerheid, rig Jesus op die laaste en groot dag van die huttefees, 'n uitnodiging aan elkeen wat Hom hoor: “As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”(Joh. 7:37b-38)
 
Wat 'n gelaaide uitnodiging aan elke mens in die skare, maar ook aan ons! My en jou menswees dors na iets meer, iets dieper – ons redding. 'n Dors wat net deur Jesus Christus, die Fontein van lewe, geles kan word. Maar dan moet jy as individu in Hom glo. So word jy deel van die vervulling van die profeet Jesaja se profesie oor die ewige waarheid van redding: “Met blydskap sal julle water skep uit die fontein van redding.”(Jesaja 12:3)
 
Daar is egter meer in Jesus se uitnodiging opgesluit. Hy beloof dat my en jou geloof in Hom, daartoe sal lei dat strome van lewende water uit ons binneste vloei. Die skrywer Johannes maak dit baie duidelik dat “die strome van lewende water” na die Heilige Gees verwys, wat diegene wat in hom glo, nog sou ontvang. So word die profesie van Jesaja oor hierdie belofte van Christus, ook 'n realiteit: “Jy sal wees soos 'n tuin wat goed besproei is en soos 'n fontein van waters waarvan die water nooit teleurstel nie.” (Jesaja 58:11, 1933.1953-vertaling)
 
Hierdie gedeelte van die profesie is eers ten volle vervul nadat die Heilige Gees op Pinksterdag uitgestort is. En vandag steeds aan gelowiges gegee word. Ons kan met vaste geloof, sonder 'n sweempie twyfel verklaar: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome lewende water sal uit sy binneste vloei.”
 
Gebed: Vader, mag die vloei van lewende water uit my binneste nooit blokkeer word deur my Ekkigheid nie. Ek erken: U alleen is die Bron van lewende water. Amen