Carina Francke 

Jesus deel sy dissipels mee dat Hy weggaan om vir hulle 'n plek te berei, maar dat Hy terugkom om hulle te kom haal. Intussen stuur Hy iemand anders: “Ek sal die Vader vra en Hy sal julle 'n ander Trooster gee om altyd by julle te bly tot in ewigheid: die Gees van waarheid wat die wêreld nie kan ontvang nie, maar julle ken Hom omdat Hy by julle en in julle sal wees.” Johannes 14:16-17
 
Dit wil my voorkom asof Jesus wil seker maak dat enige twyfel by die dissipels en (ons) oor die koms van die Heilige Gees, wortel en tak uitgeroei word. Hy knoop die belofte en die betrokkenheid van die Heilige Gees in ons lewens vas: “Maar die Trooster, die Heilige Gees, wat die Vader in my Naam sal stuur, Hy sal julle alles leer en sal julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.” Johannes 14: 26
 
Twee gelaaide beloftes! Die Heilige Gees, die Een wat ons herinner en leer, is nie maar net 'n mens wat gestuur word nie, maar is die derde Persoon in die goddelike Drie-eenheid! Hy kom maak vir ewig huis by die mens – by elke gelowige mens. Sodat Hy ons kan leer. En ons Hom kan ken.
 
Jesus verskyn weer aan sy wegkruip dissipels op die Sondagaand na sy opstanding. Sy groet, “Vrede vir julle!”, die wys van sy hande en sy sy vir hulle, asook die herhaling van die vredeswens, skep genoeg rustigheid by die dissipels dat Hy 'n aankondiging kan maak: “Soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.” Toe doen Hy die onverwagte: “Hy blaas oor hulle en sê: “Ontvang die Heilige Gees!” (Johannes 20:22)
 
Hierdie handeling herinner aan God. Daar is lewe in sy asem. Hy skep die mens, maar eers toe Hy lewensasem in hom blaas, word hy 'n lewende wese. (Genesis 2:7) Is dit moontlik dat God deur die asem van Jesus, ewige lewe in die dissipels geïmparteer het?
 
Maar besef jy dat jou en my geloof in die versoeningsdood en opstanding van Jesus, ons verseker van 'n ewige lewe saam met Hom?
 
Gebed: Hemelse Vader, dankie vir die immer teenwoordige Heilige Gees in my lewe. Help my om my knie te buig en sy leiding te volg in alles wat ek doen. Open my ore en hart om sy onderrig te hoor en om gehoorsaam te doen wat Hy ookal van my vra. Amen