Deur Benescke Janse van Rensburg
 
Ek wil die Februarie-reeks eindig met ’n gedagte uit Psalm 117. Dit is die kortste Psalm in die Bybel met slegs twee teksverse.
 
Twee verse. Twee opdragte. Twee kragtige beloftes.
 
In Psalm 117:1-2 lees ons: “Prys die Here, alle nasies, loof Hom, alle volke, want sy liefde vir ons is sterk, aan die trou van die Here is daar geen einde nie! Prys die Here.”
 
Wat moet ons doen? “Loof en prys die Here.” Hoekom doen ons dit? “Want sy liefde vir ons is sterk en aan sy trou is daar geen einde nie.”
 
Geen sonde waaroor ons berou het, is te groot vir God om te vergewe nie. En geen stormwind wat jou lewe mag skud is ooit vir Hom te sterk om stil te maak nie – nie die dokter se diagnose nie, nie jou huweliksmaat se hunkering na iemand buite julle huwelik nie, nie eens jou kredietkaart wat so vêr in die rooi is dat jy wonder hoe jy nou aan die einde van die maand jou rekeninge gaan betaal nie.
 
Nee, niks is vir God te groot of te onbelangrik nie. Hy kan stééds genees. Hy kan stééds gebroke huwelike herstel. Hy kan stééds vir ons op vreemde maniere ’n finansiële (of watter ander deurbraak ons ook al mag benodig) bewerkstellig. Hoekom? Want sy liefde vir ons is sterk en aan sy trou is daar geen einde nie.
 
Kom ons maak God opnuut die rots waarop ons ons lewens bou. Kom ons loof en prys Hom as die Skepper van die heelal, die Koning van konings, die Here van Here, want sy liefde is sterk en aan sy trou is daar geen einde nie! Sterkte.
 
Vader God, ek loof en prys U vir u almag en heerlikheid. Help my om in moeilike tye my oë op U te hou met die wete dat geen stormwind ooit vir U te sterk is nie. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         **20% AFSLAG OP BOEKE**: Net vir vandag, Vrydag, 26 Februarie 2021 kan jy Benescke Janse van Rensburgse nuuste boek, God is stééds God asook al die ander boeke vir 20% af kry by haar aanlynwinkel: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir jou afslag. Net geldig vir een dag.

TERUGVOER: Dit is die einde van die Februarie-reeks. Het jy dit geniet? Gee gerus terugvoer by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.