Deur Benescke Janse van Rensburg 

In verlede week het ’n vrou in Edinburg in Skotland skuld beken dat sy tydens ’n rusie ’n gedeelte van ’n man se tong afgebyt en op die grond gespoeg het. ’n Seemeeu het nie op hom laat wag nie. Die voël het die tong opgepik en daarmee weggevlieg! Die ergste is dat die twee mense mekaar voor die insident glad nie geken het nie. Hulle het in die straat verby mekaar gestap waarna ’n woordewisseling ontstaan het. Dit het in die “tongbyt-episode” geëindig.
 
Skokkend, nie waar nie? Tog doen ons ook soms onsinnige dinge wanneer ons nie ons woede beteuel en nie kies om selfbeheersing in uitdagende situasies te openbaar nie.
 
Is dit maklik om die ander wang te draai, nie aanstoot te neem in situasies (waar jy voel jy alle reg het om dit te doen) of om stil te bly as jy weet jou woorde verdere woede gaan laat opvlam? Nee. Dit is ontsettend moeilik. Tog is dit moontlik.
 
In Matteus 5:9 sê Jesus: “Geseënd is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.” Ook in die Spreuke 15:1 lees ons: “'n Sagte antwoord laat woede bedaar; 'n krenkende woord laat woede ontvlam.” En in Spreuke 16:32 staan geskryf: 'n Geduldige mens het meer waarde as 'n bedrewe vegter, 'n mens met selfbeheersing meer as iemand wat 'n stad inneem.”
 
Om vrede te maak, die ander wang te draai, te kies om nie aanstoot te neem nie en om konflik met ’n sagte woord te beëindig, maak jou nie ’n “swakkeling” nie. Dit demonstreer eerder hoe sterk jy is en dat die Heilige Gees in jou lewe teenwoordig is – selfbeheersing is immers ’n vrug van die gees.
 
Kom ons vra God om ons opnuut met sy Heilige Gees te vul sodat ons ook enige “tongbyt”-episodes kan vryspring! Sterkte.
 
Vader God baie dankie dat U, u Heilige Gees as geskenk vir ons gegee het. Help my asseblief om in elke situasie kop te hou en met selfbeheersing op te tree – veral wanneer dit moeilik raak. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
 
·         NUWE BOEK: Benescke Janse van Rensburg se boek, God is stééds God met meer as 60 kragtige hedendaagse geloofstories van mense is hier beskikbaar: https://benescke.co.za/aanlyn-winkel/ Gebruik die koepon VERS vir ’n spesiale prys.
 
·         Terugvoer: Gesels saam by This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.. Jy kan ook jou getuienis deel oor iets wat God in jou lewe gedoen het wat dalk ander lesers kan bemoedig.