Hennie Symington

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God. Miga 6:8
 
Wat kan nederiger wees as grond? As iemand ons rêrig sleg behandel dan is ons lief om te sê: “Ek is soos grond behandel.” Grond is dit waarop mense en diere trap. En in die Ooste sal jy nie waag om met jou skoene ʼn huis binne te gaan nie. Jy trek jou skoene uit en los dit buite.
 
Tog is daar mense wat gek is oor grond! Die tuiniers onder ons sal grond nooit afmaak as vuil nie want hulle weet grond is dit wat tuine omskep in paradyse. Sonder grond sou ons geen tuin en bome met sierlike plante en vrugte en groente gehad het nie. Die tuinier wat sy grond ken, weet ook dat grond wemel van lewe en moontlikhede wanneer dit gevoed en omgespit word met kompos en verrotte plante uit die komposhoop. Maar hulle weet ook dat dit geen krag het as dit onder ʼn seil toegemaak word om dit netjies te laat lyk nie. Dit moet ingespit word.
 
Mense is ʼn bietjie soos grond. Kort-kort moet ons eie koppige natuur ʼn bietjie ingespit word met ʼn skeppie nederigheid en verryk word met kompos sodat ons innerlike tuin of geestelike lewe kan gedy. Wees soos grond! As jy nederig en na aan die grond leef, is dit wannneer jou siel geleentheid kry om te blom.
 
Gebed: Here, dikwels trek ons neus op vir die heilsaamheid van u lering wat ons help om te groei. Leer my dat nederigheid nie bedoel is om my te verneder nie maar om te help om te groei in geloof en wysheid. Amen.