Hennie Symington 

Ek gaan nou my boodskapper stuur, Hy sal die pad voor My uit reguit maak, En dan sal die Here na wie julle soek, skielik na sy tempel toe kom. Ja, die Verbondsengel na wie julle met soveel vreugde uitsien gaan nou kom, sȇ die Here die Almagtige.  Maleagi 3:1
 
Die windjie was skraal en die koue het deur murg en been gesny daar waar die skaapwagters onder die sterrehemel by die vuurtjie gesit en na hulle skape omgesien het. Hulle kon nie waag om hulle skape op die oopveld te los as prooi vir bere en wolwe nie. Maar skielik was dit asof die skape sigbaarder in die donker geword het terwyl die nagtelike hemel helder verlig word en ʼn engel – nee, ʼn skare engele − verskyn met “… ʼn goeie tyding van groot blydskap, wat vir die hele volk bestem is." (Lukas 2:9)  Die engele se boodskap was dat hulle ʼn kind wat in doeke toegedraai is en in ʼn krip lȇ sou vind.
 
Hulle kon nie wag om die wonder te aanskou nie en vat die pad na waar die ster hulle gelei het. En wat vind hulle daar? God as mens – ʼn mens soos ons. God Immanuel. Dit was die nag toe God na ons toe gekom het en so na aan ons was dat hy een van ons geword het. Hy het mens soos ons geword om ons terug te lei na die Vader.
 
Wanneer jy deur moeilike tye gaan, wanneer die lewe sy sin vir jou verloor het en niks jou vreugde verskaf nie, en jy voel jy hoort nȇrens nie, onthou die Een wat in die nag gehuil het, die Een in doeke toegedraai in ʼn krip. Onthou die Een wat moes vlug van sy eie mense en die Een wat uitkoms vir die hele mensdom en dus ook vir jou gebring het.
 
Een nag, meer as tweeduisend jaar gelede, het ʼn groepie herders iets gevind wat hulle wildste drome oortref het – iets wat ons ook kan vind: die pad na God deur ʼn kind in ʼn stal. Miskien is dit tyd om jou hart oop te maak en die wonder van Kersfees te aanvaar. In die woorde van een teoloog: “Ons het nie ʼn keuse nie. God is met ons.”
 
Gebed: Hemelse Vader, ons dank U dat U u Seun as ʼn brug tussen mens en God gestuur het om die mensdom hoop op redding te gee. Amen