Hennie Symington 

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God … Alles het deur Hom tot stand gekom …  Johannes 1:1,3a
 
Johannes moes die skrifgeleerdes van sy tyd in ʼn warboel gehad het. Sulke diepgaande geskrifte geskryf deur ʼn (nie so doodgewone) visserman! Met een breё haal, in die eerste paragraaf betrek hy die Griekse sowel as die Joodse lesers van sy tyd. Daar was geen twyfel by hulle dat Johannes Jesus aan hulle voorstel as ʼn goddelike wese nie. Hy doen dit deur na Jesus te verwys as die Woord (Logos in Grieks). Die Grieke het geglo dat die logos die onverklaarbare en oermag is waardeur die heelal gedryf word. Die Jode aan die anderkant het geglo dat God die hemel en aarde en alles wat daarop is, geskep het bloot deur die woord te spreek: " … Laat daar lig wees!” en daar was lig. (Genesis 1:3b). Daarna gebruik hy die hele Johannes boek om dit te staaf.
 
Ongelooflik vir ʼn visserman, is dit nie? En eenvoudig genoeg sodat selfs die eenvoudigstes onder ons dit kan verstaan. (Bron: The Complete Guide to the Bible, Stephen M. Miller, Barbour Publishing, Inc., Uhrichsville, Ohio.)
 
Gebed: God, U het ons geskep en ons hele wese ingestel om in ʼn verhouding met U te kan wees. Hoe wonderlik dat U mense soos Johannes en ander evangelieskrywers in staat gestel het om die waarhede oor die geboorte van Christus en sy aardse bestaan op verskeie vlakke aan ons te kon oordra. Amen.