Hennie Symington 

Maar hierdie wondertekens is beskrywe sodat julle kan glo dat Jesus die Christus is, die Seun van God, en sodat julle deur te glo, in sy Naam die lewe kan hê. Johannes 20:31
 
Die Evangelie volgens Johannes staan uit as ʼn besonderse boek wat uiters komplekse gedagtes met soveel helderheid beskryf dat dit heeltemal in ʼn kategorie van sy eie val. Dit verskil hemelsbreed van die drie sinoptiese evangelies wat langsmekaar vergelyk kan word. Johannes dring deur tot die kern van die evangelie in sy boek. Hy skryf nie oor die gelykenisse nie en beperk sy beriggewing oor die wonderwerke tot ʼn minimum (hy noem slegs sewe). Die vraag is: Waarom? Moontlik omdat hy die ander drie evangelies wat reeds in die Christenwêreld van sy tyd in omloop was, reeds onder oё gehad het. Dis wat hy in soveel woorde daaroor te sê gehad het: "Daar was nog baie ander dinge wat Jesus gedoen het. Maar as dit een vir een beskrywe moet word, dink ek, sou die hele wêreld nie genoeg plek vir die boeke hê nie." Johannes 21:25.
 
Dit wil voorkom asof Johannes se hoofdoel met die skryf van sy evangelie was om die goddelike aard van Jesus Christus te bevestig. Hy beweeg verby Betlehem terug na die skeppingsverhaal waar Jesus reeds teenwoordig was (“Hy was reeds in die begin by God”). Hy weef ook lang besprekings oor waarom Christus aarde toe gekom het in sy vertelling in.
 
Tog lees ons van die bekendste en mees geliefde verhale en leringe van Jesus in die hele Bybel in hierdie boek. Wat sou ons geloof gewees het sonder die volgende hartsvers: "God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê." (Johannes 3:16).Is dit nie die hart van ons geloof nie? ʼn Sekere teoloog het eenmaal gesê, “Jesus min my, salig lot!” is waarskynlik die diepste waarheid wat nog oor geskryf is. (Bron: The Complete Guide to the Bible, Stephen M. Miller, Barbour Publishing, Inc., Uhrichsville, Ohio.)
 
NS. Johannes is die enigste dissipel wat nie by name in sy boek genoem word nie – moontlik ʼn teken van sy nederigheid?
 
Gebed: Here, ons kan U nie genoeg dank vir die begenadigde mense wat seker gemaak het dat ons ʼn eerstehandse weergawe en getuienis kan hê van dit alles wat U gedoen het nie. Ons kan maar net ons hande saamslaan in gebed wanneer ons lees dat die Woord na ons toe gekom het onder die leiding van u Gees. Amen