Hennie Symington

In Hom is die volle wese van God beliggaam, en in verbondenheid met Hom deel julle in sy volheid. Kolossense 2:9a

In die ou Hebreeuse tradisie is daar na die Gees van God verwys as Shekinah, die woord vir wandel, of die een wat wandel. Dit is die term wat gebruik is om die verskynsel van God wat onder mense woon te beskryf. In die Nuwe Testament lees ons: “God bly in hom, en hy in God.” Ons het God se woord dat “niemand jou kan skei van die liefde wat daar in Christus is nie” (1 Johannes 4:15). En soos wat jy in die teenwoordigheid van God wandel, word dit ʼn werklikheid.

In hierdie Adventseisoen verlang ons in besonder na God se stralende teenwoordigheid in ʼn gebroke wȇreld wat die hele skepping onder sy wakende oog kan hou.

Die afgelope jaar was voorwaar ʼn jaar van lyding, rampspoed en vernietiging, soveel so dat die mensdom smag na ʼn nuwe openbaring in ons tyd. Ons deursoek die hemele vir ʼn teken of ʼn wolkkolom wat ons kan lei deur die woesteny van ons lewens. Tog verseker die Woord ons dat God altyd teenwoordig in ons, rondom ons en naby aan ons is. Ons het die versekering dat sy Gees selfs in ons woon.

Terwyl jy jou instel op die begin van die Adventseisoen, dink aan tye toe jy die teenwoordigheid van God nie net op onverwagse plekke en op verrassende oomblike ervaar het nie, maar ook in jou alledaagse handel en wandel. Wanneer jy God toelaat om by jou sy intrek te neem, ervaar jy Shekinah - God by jou, God in jou en God rondom jou. Mag jy in die aanloop tot die herdenking van Christus se geboorte God se nabyheid op ʼn besondere wyse ervaar.

Gebed: Here, die jaar was nie sonder sy pyn en angs nie. Ons is op baie maniere gewond en seergemaak. Tog het ons u teenwoordigheid en troos ervaar. Gee dat ons ʼn skuiling sal wees vir diegene wat alle hoop verloor het en vir wie Kersfees maar net nog ʼn dag in hulle stukkende lewens is. Amen