Hennie Symington

“Waarmee moet Ek hierdie geslag vergelyk? …. Ons het vir julle op die fluit gespeel, en julle het nie gedans nie! Matteus 11:16a, 17a

In hierdie seisoen van afwagting op die herdenking van Jesus se geboorte doem Johannes die Doper se vraag vanuit die gevangenis waar hy deur Herodus gevange gehou en later onthoof is, weer by my op. Hy stuur 'n boodskap aan Jesus met die vraag: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ʼn ander een verwag?”(Matteus. 11:2b). Vir Johannes was dit 'n eksistensiёle vraag: Was sy lewe en prediking tevergeefs? Het die hoop dat Jesus die Messias is, beskaam? Het hy ʼn fout gemaak en in die proses sy lewe op die spel geplaas? Was daar nie dalk ʼn ander Messias met ʼn beter geslagslyn, wat êrens in ʼn paleis gebore is nie?

Soos Johannes die Doper ken ons ook al die kentekens van die Messias maar ons soek hom dikwels elders. Ons word verlei deur die beloftes van talle ander redders op ons pad. Verslaafdheid aan besittings, sukses, sekuriteit, weelde, selfsug en selfhandhawing wat beloof om ons te red uit ʼn gevoel van hopeloosheid.

Hoe sal ons dan te midde van al die aanloklikhede en die aktiwiteite van die “feesseisoen” die Messias herken? Hoe sal ons weet wanneer die regte musiek in ons ore klink?

Miskien moet ons ag slaan op Jesus se antwoord aan Johannes se dissipels: Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien: Blindes sien, lammes loop, melaatses word gereining, en aan armes word die evangelie verkondig.” (Matteus 11:4-6a).

Vanuit ons menslike oogpunt, kyk ons dikwels die tekens van hoop mis. Hoop word nie gebore uit die afgesaagde verwagtings van ʼn kultuur wat hoop al lankal langs die pad verloor het nie, of verruil het vir die beloftes van die magtiges en die rykes nie. Hoop word gebore waar nuwe lewe voortspruit.  

Mag Advent ʼn tyd wees van hernude hoop met ʼn vonkie vreugde vir jou en die naby aan jou.

Gebed: Here, herinner ons weer aan die nag toe die Kind in karige omstandighede gebore is. Herinner ons aan die herders wat die engel geglo het en gaan soek het vir die kind. Gee dat ons hierdie Kersfees met sterlig in ons oё en verwagting in ons harte die geboorte van Jesus sal vier. Amen