DEUR BENESCKE JANSE VAN RENSBURG

In Augustus vanjaar was Lené van Heerden, ’n fisioterapeut van Pretoria en haar man, Wilmar voor ’n keuse: Óf hulle installeer die klimraam wat hulle weke vantevore bestel het óf hulle kanselleer dit. Hierdie besluit sou demonstreer hoe diep hulle geloof werklik strek:

Lené:  “In Augustus was ons 5-jarige seuntjie, Lukas en my pa in ’n kop-aan-kop motorongeluk. Dát hulle oorleef het was ’n wonderwerk. Beide is in die noodeenheid opgeneem. Die impak op Lukas se oë het hom blind gelaat. Om die swelling op sy brein te monitor, het die dokters vir Lukas vir ’n week lank in ’n geïnduseerde koma gehou voordat hulle hom stadig uitgehaal het. Om as ma te sien hoe jou kind hallusineer in die donker weens die sterk medikasie waarop hy was, was traumaties. Dit het kompleet gelyk soos onttrekkingsimptome van ’n dwelmverslaafde.

“Al wat ons kon doen, was om te kies om God te vertrou, om positief te praat en aan sy beloftes vas te hou dat Hy stééds ons Geneser is. In geloof het ons die beloftes oral in Lukas se noodeenheidkamer opgeplak. Weens die Covid19-regulasies kon ons Lukas nie heeldag sien nie. Dit het my ma-hart gebreek omdat ’n mens jou kind wil beskerm. Tydens my gebedstye het ek egter ervaar dat God vir my sê om nie bekommerd oor Lukas te wees nie omdat hy by Hom is en dat Hy hom beskerm.

“Die oproep om die installering van die klimraam te bevestig, het gekom in ’n tyd wat ons nie seker was of Lukas gaan oorleef en of hy ooit weer sou kon sien, speel of klim nie. Menslik gesproke was dit ’n dom idee. Ons moes dit net kanselleer. Tog was dit vir my en Wilmar ’n stap van geloof – ’n fisiese teken dat ons God genoeg vertrou dat Hy Lukas volkome kan genees. Ons het dit laat oprig.

“’n Vriendin van ons het gehelp om ’n gebedsgeleentheid byeen te roep waar mense wat deel was van Lukas se gebedsgroep wêreldwyd op ’n bepaalde tyd saam met ons vir sy genesing gebid het. Ons het in die gees oorlog gevoer. Ons het gebid, nagmaal gebruik, ramshorings geblaas en verklaar dat ons God vir ’n wonderwerk vertrou. 

“Die dag ná die gebedsgeleentheid het Lukas opgehou hallusineer. Hy was meteens rustig. Sy sig het stadig begin teruggekeer. Sy verbetering in die dae daarna het dokters se verwagting oortref. Die voorspelling was dat Lukas 18 maande tot 2 jaar sou neem om te herstel omdat ons besluit het om hom self na rehabilitasie te neem en hom nie by ’n rehabilitasie-instituut te laat opneem nie.

“Dit is nou 3 maande later. Lukas se sig is 95% herstel. Hy hardloop, spring en speel op die klimraam wat ons laat oprig het asof hy nooit enigiets makeer het nie. En wanneer hierdie 5-jarige seuntjie praat oor God, Jesus en die Heilige Gees staan ons verstom. Was hy in daardie tyd wat hy in ’n koma was in die gees by God? Ek is oortuig daarvan. God is waarlik goed en ons eer Hom vir die wonderwerk in ons lewens.”

God het Lené en Wilmar se stap van geloof raakgesien. Hy het ook die skare van gelowiges se gebede vir Lukas gehoor. Net só hoor Hy ook elkeen van ons se gebede wat in geloof gebid word. In Markus 11:24 lees ons: “Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verkry.” Mag ons aanhou om God ook vir wonderwerke in ons lewens vertrou. Sterkte!

Vader God, baie dankie dat U steeds genees! Versterk ook my geloof en herinner my aan U beloftes in moeilike tye. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.