Deur Benescke Janse van Rensburg

Was jy al ooit in ’n situasie waar jy met jou rug teen die muur gestaan het? ’n Situasie waar jy volkome moes oorgee en vertrou dat God jou sal help?

Jy is nie alleen nie.

Moses was ook daar – met die bruisende Rooisee voor hom en die woedende Egiptenare agter hom. Elia was daar – met die 450 Baälprofete aan die een kant van die Karmelberg en hy alleen aan die ander kant. Daniël was daar – op pad na die leeukuil. Sadrag, Mesag en Abednego was daar – op pad na die vuuroond. Ester was daar – op pad om ongenooid by die koning op te daag. En selfs Petrus was daar – vasgesluit in die tronksel wetende dat hy die volgende oggend op die markplein vir sy geloof gemartel gaan word.

Desperate situasies demonstreer hoe diep ons geloof strek. Is ons bereid om God blindelings te vertrou?

In Psalm 46:11-12 sê God: “Julle moet ophou veg, julle moet weet dat Ek God is, Ek is hoog bo die volke, hoog bo die aarde.” (Die Bybel vir Almal-vertaling). Ook in Hebreërs 11:1 word ons herinner aan wat geloof is: “Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.”

Wat glo ons kan God in ons situasies doen? Glo ons dat Hy ’n gebroke huwelik kan genees? Glo ons dat Hy ons finansiële verknorsing kan omdraai? Glo ons dat Hy vir ons ’n beter werk kan gee sou ons by die huidige werk afgelê word? Glo ons dat Hy ons volkome kan genees al het die dokter gesê dit is onmoontlik?

Moses het geglo – en God het ’n pad deur die see oopgemaak. Elia het geglo – en God het vuur uit die hemel gestuur. Daniel het geglo – en God het die leeus se bekke gesluit. Sadrag, Mesag en Abednego het geglo – en God het hulle uit die vuuroond gered sonder dat enige haar op hulle liggame geskroei was. Ester het geglo – en God het aan haar guns by die koning gegee sodat sy die Jode kon red. En ook Petrus het geglo – en God het bonatuurlik ’n engel gestuur wat hom uit die tronk gered het.

Wat glo jy vandag? Onthou God se woorde: “Julle moet ophou veg, julle moet weet dat Ek God is, Ek is hoog bo die volke, hoog bo die aarde.” Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek my lewe aan U kan oorlaat. Help my asseblief vandag (noem die uitdaging). Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

·         TERUGVOER: As jy wil terugvoer gee rondom die reeks of ook ’n getuienis het wat jy graag wil deel, gebruik gerus hierdie epos-adres: This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.