Deur Benescke Janse van Rensburg

3886,20 meter kaalvoete oor LEGO®-blokkies. Dít is die nuwe wêreldrekord wat Amerikaner Kevin Strahle vroeër die maand opgestel het. Hoekom hy dít wou aanpak sal net hy weet, aangesien enigiemand wat al per ongeluk kaalvoet op een van dié blokkies met die skerp punte getrap het die ken pyn!

Op ons lewenspad is daar egter van tyd tot tyd ook “blokkies met skerp punte” in die vorm van uitdagings. Dit kom voor in ons huwelike, die werkplek, ons finansies of selfs ons gesondheid. Die vyand plaas die “skerp blokkies” daar met die doel om ons spoed te breek óf om ons mismoedig te laat. God stel ons egter in staat om óf om die blokkies te stap óf om soos Kevin bo-oor te stap sonder dat ons enige pyn ervaar. 

In Lukas 10:19 sê Jesus:  “Kyk, Ek het aan julle die mag gegee om op slange en skerpioene te trap en om die vyand met al sy geweld te oorwin, sonder dat iets julle enige leed aandoen.” Ook in Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Watter uitdagings staar jy vandag in die oë? Kom ons vra God om ons opnuut te versterk. Hy stel ons in staat om nie net oor slange en skerpioene te trap nie, maar verseker ook elke blokkie met skerp punte wat die vyand in ons pad kom plaas. Sterkte. 

Vader God baie dankie dat U my in staat stel om te heers oor uitdagings in my lewe. Versterk my vandag en vul my opnuut met krag en strategieë. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.