Deur Benescke Janse van Rensburg

’n Pad deur die Rooisee, manna en kwartels, water uit ’n klip en wéér ’n pad deur die Jordaanrivier na die Beloofde Land.

Dít was enkele wonderwerke wat God vir die Israeliete gedoen het op hulle roete na die Beloofde Land. Oor die afgelope paar dae lees ek in my persoonlike Bybelstudie weer dié storie. Wat my telkens opval is hoe God aan die Israeliete voorsien het wat hulle nodig gehad het, wanneer hulle dit nodig gehad het.

In die woestyn moes die Israeliete daagliks nuwe manna gaan optel. Hoekom? Omdat God hulle wou leer dat hulle daagliks afhanklik van Hom kan wees. Hy het nie net vir hulle gesorg met kos en water nie, maar ook aan al hulle ander behoeftes. In Deuteronomium 29:5-6 sê God: “Ek het julle veertig jaar deur die woestyn gelei: julle klere het nie aan julle liggame verslyt en julle skoene het nie stukkend afgeval van julle voete af nie.” (Interessant dat die manna ná die eerste ete in die Beloofde Land nooit weer verskyn het nie.)  

By die Rooisee en die Jordaanrivier het God telkens ’n pad deur die water vir die volk oopgemaak. In Joshua 4:24 vind ons die rede hiervoor: “Hy het dit gedoen sodat al die volke van die aarde kan besef dat die mag van die Here groot is, en sodat julle die Here julle God altyd sal dien.”

God is vandag stééds ons kragtige Voorsiener. Hy wil steeds hê dat ons Hom daagliks moet vertrou vir wat ons benodig. In Matteus 6:31-33 lees ons: “Julle moet julle dus nie bekommer en vra: ‘Wat moet ons eet of wat moet ons drink of wat moet ons aantrek?’ nie. Dit is alles dinge waaroor die ongelowiges begaan is. Julle hemelse Vader weet tog dat julle dit alles nodig het. Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.”

Druk dinge vandag in jou lewe – in die werkplek, by die huis, met jou gesondheid, met jou finansies? Kom ons kies om nie te kla nie, maar eerder doelbewus God se wil vir ons lewens te soek. Só skep ons ’n geleentheid vir Hom om sy grootheid, krag en vermoë om te voorsien ook in ons lewens te demonstreer. Sterkte.  

Vader God, baie dankie dat U stééds die Voorsiener is. Help my asseblief om nie verder te stres oor (noem jou bekommernis). Vul my hart opnuut met geloof en vertroue in U. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.