Deur Benescke Janse van Rensburg

Die Vrystaatse somers raak soms bloedig warm. Juis hierom het twee broers van Bainsvlei in Bloemfontein, Philip (11) en Janco (9) hulle ouers jaar na jaar vir ’n swembad gesmeek. Vorige jare was hulle sussie, Anje te klein en omdat hulle ouers, Nerika en Jaco bang was dat sy in die swembad sou val, het hulle geweier.

Met die inperking vanjaar het die broers weer begin smeek. Dié keer was Anje darem al 5 jaar oud. Tot die seuns se verbasing het hulle ouers ingestem op een voorwaarde: Hulle sou self die kruiwa en die graaf moes optel om die gat te grou.

“Ons wou hulle leer dat jy met harde werk die vrugte pluk. Dit is maklik om iemand te kry om die werk vir jou te doen, maar as jy self die tyd en moeite insit, is dit soveel meer lonend,” vertel Nerika aan Netwerk24. “Niks in die lewe is verniet nie en ons wou ons kinders leer dat as jy jou kant bring, jy wel jou doelwitte sal kan bereik.”

Die twee seuns het dadelik aan die werk gespring. Ná afmetings op die grasperk het hulle begin grou. “Daar was later al blase op die twee se hande van al die werk en as die een moed wil opgee sal die ander een vir hom vra: ‘Wil jy ’n swembad hê? Nou, grou!’” vertel Nerika.

Met die hulp van die buurvrou se dogter, asook ma en pa het hulle die gat binne ses weke klaar gegrawe en is die swembaddop ingesit. “Nou is dit omtrent ’n storie om die twee uit die swembad te kry. Hulle boer in die water,” lag Nerika.

As gelowiges trap ons soms in die strik om te verwag dat as ons oor ’n saak bid, God al die werk namens ons moet doen. Die waarheid is egter dat ons ook ons kant moet bring. As ons gewig wil verloor, moet ons minder eet en begin oefen. As ons God beter wil leer ken, moet ons die Bybel optel en begin bestudeer. As ons ’n beter huwelik begeer, moet ons tyd en moeite aan ons maat bestee. En as ons ’n beter finansiële situasie begeer, het ons nodig om wyser finansiële besluite te neem.

Is dit altyd maklik om ons deel te doen? Verseker nie – gaan vra maar die twee boeties wie later blase op die hande gehad het. Wat ons wel weet, is dat God ons versterk en met wysheid en krag vul om te doen wat gedoen moet word. In Filippense 4:13 lees ons: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Ook in Jakobus 1:5 staan geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Watter situasie in jou lewe wil jy hê moet verander? Watter doelwitte wil jy bereik? Kom ons gesels met God daaroor en vra Hom om ons met krag en wysheid te vul sodat ons ook die “kruiwa en graaf” kan optel en begin spit. Sterkte.

Vader God, baie dankie dat ek weet dat U enige situasie kan verander. Versterk my en vul my met wysheid om te weet wat ek moet doen van my kant af om ’n verandering te beleef. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.