Deur Benescke Janse van Rensburg

Vandag wil ek ’n uittreksel uit my boek, God is stééds God met jou deel. Dit is die storie van oud-Protea netbalspeler, Patrys van der Merwe en haar man, Jan-Hendrick wat sowat ’n dekade gelede langs die graf van twee kinders moes staan ná ’n fratsongeluk op hulle plaas.

Een laatmiddag ná die gesin ’n middagslapie geneem het, wou Jan-Hendrik iets op die plaas gaan kyk. Hulle kinders, Kirsten (4) en Philip (1) wou saamry. Reeds vir ses maande tot daardie dag, het die passasiersdeur van die ou Cruiser waarmee Jan-Hendrik op die plaas rondry, vasgesit. Alle passasiers moes dus by die bestuurderskant inklim. Jan-Hendrik en die kinders was sowat 200 meter weg van die huis en hy het teen 20 km/h gery toe die passasiersdeur skielik oopvlieg. Die kinders het uitgeval en onder die agterwiele beland. Hulle is beide op slag dood.

“Dit was verskriklik om my man, wat nie eens ’n vlieg sal skade aandoen nie, met ons lewelose kindertjies langs die grondpad te kry. Ons beide was gebroke,” vertel Patrys. “Tog het ons dáár, terwyl ons vir hulp gewag het, saam besluit dat ons nie sal toelaat dat hierdie verlies ons uitmekaarruk nie.”

Drie weke ná die begrafnis het die egpaar ’n sielkundige in Kaapstad gaan spreek. Op pad terug huis toe het die hartseer vlak gelê. “Ek het sommer vroeg reeds begin huil,” vertel Patrys. “Aan my binneste het ek konstant met God gepraat oor hierdie ‘nuwe normaal’ – ’n stil huis sonder kinders – wat vir my voorgelê het. Ek het geen idee gehad hoe ek dit sou hanteer nie.”

Toe gebeur die onverwagse. “Die oomblik toe ons by die hekke van die plaas inry, het my man gestop en ons het uitgeklim,” vertel Patrys. “Wat ons gesien het, was só ongewoon dat ons foto’s geneem het omdat ons gedink het mense ons nie sou glo as ons dit net vir hulle vertel nie. Bo-oor ons plaas in die wolke was daar ’n duidelike kruis.” In daardie oomblik het Patrys ervaar dat God vir haar sê: “Moenie bang wees nie. Ek is hier by julle. Ek stap saam met julle hierdie pad.” ’n Rustigheid en kalmte het oor beide Patrys en Jan-Hendrik neergedaal wetend dat God hulle dra.

Bykans sewe jaar later, ná verskeie miskrame en met behulp van vrugbaarheidsbehandeling, is die paartjie geseën met twee pragtige seuns. Eers Pietman en twee jaar later, Daniël.

Wat is die eienskap van God wat vir jou die meeste uitstaan as jy terugkyk? Patrys dink vir ’n oomblik. “God was vir ons soos ’n liefdevolle Pa. Ek het geen idee gehad hoe ons sou cope nie, maar Hy het ons bonatuurlik met sy beskerming omvou. Hy het voorsien wat ons nodig gehad het in elke seisoen. Dit is asof Hy ons in sy skoot getel het om ons te vertroos in ons seerste seer. Vandag kyk ons terug en kan ons getuig dat Hy, net soos daardie belofte in die wolke, ons regdeur die donker tye gedra het!”

God is stééds God. Hy is nader aan ons as wat dit voel in ons seerste seisoene. In Jesaja 51:12 sê Hy: “Dit is Ek wat julle troos!” In Psalm 34:19 lees ons: Die Here is naby die wat gebroke is van hart, en Hy verlos die wat verslae is van gees.” En in Jeremia 31:13 beloof Hy: “Ek sal hulle droefheid in vreugde verander, Ek sal vir hulle uitkoms gee: Ek sal hulle bly maak, hulle sal geen kommer meer hê nie.”

Wat is jou seer vandag? Die verlies van ’n geliefde? ’n Egskeiding? Aflegging by die werk? ’n Finansiële krisis? Kinderloosheid? My gebed is dat ons God sal toelaat om Homself in elke seisoen aan ons te openbaar. Hy is immers stééds God. Sterkte.

Vader God, dankie, dat U saam met my huil in moeilike, seer tye van verlies en dat U stééds naby my bly. Help my om deurentyd my oë op U te hou. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.